Matrieks

Harde werk werp vrugte af

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Nadine Heys
Nadine Heys

Die voornemende bedryfsingenieur Nadine Heys (18), oudleerling aan die Hoër Meisieskool Oranje in Bloemfontein, het onderskeidings in ál agt haar vakke behaal.

Sy het in die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen A's in Afrikaans huistaal, Engels eerste addisionele taal, Duits tweede addisionele taal, wiskunde, lewensoriëntering, rekeningkunde, besigheidstudies en fisiese wetenskappe behaal.

Nadine het op agt onderskeidings gehoop, maar was onseker of sy dit wel in fisiese wetenskappe en Duits sou vermag.

Die jong Bloemfonteiner was Donderdag senuagtig, maar opgewonde om Vrydag uiteindelik haar uitslae te ontvang. Haar harde werk het egter vrugte afgewerp.

Nadine Heys
Nadine Heys

Sy gaan vanjaar bedryfsingenieurswese aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus studeer.

"Dis baie wyd (dié rigting). Ek is nie eintlik doodseker wat ek wil studeer nie," sê sy oor haar studiekeuse.

"Maar ek weet ek hou baie van wiskunde en skeinat. Al is dit moeilik, is dit baie interessant en hou dit my op my tone."

Nadine het verlede jaar Protea-kleure in dans verwerf en in twee wêreldkampioenskapskompetisies meegeding.

Sy is die dogter van Vernon en Estie Heys, onderskeidelik 'n sakeman en verpleegkundige. Nadine het ook twee ouer susters, Vernike Kriel (26) en Bianka Heys (23), wat albei ook by Oranje skoolgegaan het.

"Ek gaan Oranje verskriklik baie mis, omdat ek nou 12 jaar lank daar was. Ek het eintlik op die skoolterrein grootgeword omdat my sussie (Vernike) al op skool was toe ek gebore is," sê Nadine.

"Dit is nou 'n bietjie moeilik om die skool te verlaat, maar ek sien uit na vanjaar, want ek gaan ook vir die eerste keer koshuis (Minjonet) toe."

Sy sê daar is 'n mate van vrees vir die onbekende, maar sy glo dit gaan baie lekker op universiteit wees.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM