Matrieks

Lineo – Flink dinker en beredeneerder

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Toe die beoordelaars op die ATKV se nasionale redenaarskompetisie verlede jaar aankondig dat Lineo Kokonyane die tweede plek verower het in die onvoorbereide afdeling vir Afrikaans addisionele taal, was sy oorstelp.

"Ek het nog nie lank redenaars gedoen nie en verlede jaar was die tweede keer dat ek deelgeneem het," vertel die matrikulant van die Hoërskool Witteberg in Bethlehem.

Lineo Kokonyane is een van die Hoërskool Witteberg in Bethlehem se topmatrikulante.
Lineo Kokonyane is een van die Hoërskool Witteberg in Bethlehem se topmatrikulante.

"Om net die finale uitdunne te haal was reeds 'n prestasie vir my, maar om as tweede beste in die land aangewys te word in die afdeling . . . dis seker verlede jaar se prestasie waarop ek die trotsste is.

"Dit het vir my gewys harde werk word wel beloon, dat my menings en kennis ingelig en relevant is en ook genoeg gewig dra om met die mense rondom my te deel."

Redenaars was een van die naskoolse aktiwiteite wat sy die meeste geniet het, vertel sy.

"Redenaars het my die geleentheid gegee om mense in te lig van probleme en kwessies waarvan hulle dalk nie geweet het nie. Maar dan bied jy ook oplossings vir daardie probleme. Dit help jou om krities te dink - en te besef dat daar talle maniere is om 'n probleem te benader."

Onvoorbereide redenaars - die afdeling waarin sy deelgeneem het - is een van die meer uitdagende afdelings in die ATKV-redenaarskompetisie.

"Dit daag jou ook uit en dwing jou om op jou voete te dink. Jy kry 'n tema en moet in 'n kort tydperk 'n toespraak uitdink en lewer wat jou uitgangspunt beredeneer," vertel sy.

Lineo het onderskeidings behaal in Engels huistaal, Afrikaans eerste addisionele taal, wiskunde, lewensoriëntering, rekeningkunde, ekonomie, fisiese wetenskappe.

Ten spyte van haar prestasies op die redenaarsverhoog, het sy ook 'n kop vir syfers. Sy is van plan om vanjaar geoktrooieerde rekeningkunde aan die Universiteit van Kaapstad te studeer en vertel ekonomie is haar gunstelingvak.

"Ek stel veral belang in ekonomie, want dit gee my beter insig oor hoe ons land se eie geldsake werk. Wanneer die petrolprys styg of die rentekoers verhoog word, verstaan ek dit beter. Ek is ook geïnteresseerd in eiendomsontwikkeling en alles wat dit behels om 'n gebou of ontwikkeling tot stand te bring."

In haar vrye tyd reis en stap sy graag - oor naweke gaan stap sy haar kop skoon in die Maluti's naby Clarens en bring ook tyd deur saam met haar vriende en familie. Sy beskou haar ouers as haar grootste rolmodelle. Haar pa, Sefako, is 'n strukturele ingenieur met spesialiskennis in boumateriale en haar ma 'n lektor by die Maluti TVET Kollege.

"Albei moes hulself opwerk in die lewe en albei het sukses behaal in hul onderskeie beroepe as baanbrekers. Hulle het 'n nougesette werksetiek wat my ook inspireer. Nes hulle wil ek ook graag eendag 'n baanbreker in my beroepslewe wees."

Die grootste uitdaging wat nog oor haar pad gekom het, was in 2017 toe hul huis afgebrand het.

"Ons moes ons lewe van vooraf bou, ons het alles verloor. Die gebeurtenis het my geleer om nooit iets as vanselfsprekend te aanvaar nie en elke dag my beste te gee, omdat jy nooit weet wat die volgende dag of die toekoms inhou nie."

Sy glo haar generasie kan 'n verskil maak as almal hul unieke vaardighede deel en saamploeg en hul idees met hul gemeenskappe deel.

"As mense saamwerk en bereid is om te deel, kan die land net vorentoe beweeg. Ons hoef nie op ander lande staat te maak nie, omdat ons soveel hulpbronne het - en een daarvan is Suid-Afrika se burgers. Ons kan alles hier op eie bodem vervaardig en ons eie plaaslike ekonomieë ondersteun, want local is op die ou einde die lekkerste!"

Carla Lewis

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM