‘Natuurramp’ speel af in reservaat buite Bethlehem – DA

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die ingang van die Wolhuterskop-natuurreservaat buite Bethlehem in die Oos-Vrystaat waar ’n natuurramp volgens die DA hom afspeel sonder dat die Dihlabeng-munisipaliteit ingryp.
Die ingang van die Wolhuterskop-natuurreservaat buite Bethlehem in die Oos-Vrystaat waar ’n natuurramp volgens die DA hom afspeel sonder dat die Dihlabeng-munisipaliteit ingryp. ( Foto: Argief)

Die situasie in die Wolhuterskop-natuurreservaat buite Bethlehem waar ’n omgewingsramp hom afspeel, is onhoudbaar. Weens oorbevolking van wild word die veld verwoes, dierewelsyn bedreig, biodiversiteit neem af en die reservaat se potensiaal as ’n openbare bate wat inkomste kan verdien, word ondermyn.

So sê by Estie Senekal, ’n DA-raadslid van die Dihlabeng-munisipaliteit in die Oos-Vrystaat, oor die toestand in die reservaat waar duisende wilde diere nie meer genoeg kos het nie. Professionele jagters sê dit is te laat om die diere uit te dun.

Die DA vra vir ’n dringende ingryping deur die Vrystaatse departement van samewerkende regering en tradisionele sake sowel as die departement van toerisme en omgewingsake om die verergerende krisis in die Wolhuterskop-natuurreservaat die hoof te bied.

Senekal sê jare van munisipale verwaarlosing en wanbestuur onder die ANC-geleide munisipaliteit het die ekologiese integriteit van die reservaat in ernstige gevaar gestel.

Tydens die vergadering van die Artikel 80- gemeenskapsdienste-portefeuljekomitee van die Dihlabeng-raad op 2 Julie vanjaar het die volgende kritieke feite aan die lig gekom:

• ’n Onlangse wildtelling wat deur Sanparke uitgevoer is, toon dat die reservaat se wildbevolking sy ekologiese dravermoë met 150% oorskry.

• Om balans te herstel, word die dringende verwydering van 1 200 blesbokke en 40 elande aanbeveel.

• Die vensterperiode vir optrede is gevaarlik kort.

Senekal sê die munisipaliteit vermeld ’n baie lae inkomste uit Wolhuterskop. Herhaalde versoeke van die DA vir opdaterings oor uitdunning of tenderprosesse het grootliks onbeantwoord gebly.

Sebras in die Wolhuterskop-reservaat buite Bethlehem vroeër vanjaar. Volgens Sanparke moet tot 1 200 blesbokke en 40 elande uit die park verwyder word om verdere oorbeweiding te verhoed.
Sebras in die Wolhuterskop-reservaat buite Bethlehem vroeër vanjaar. Volgens Sanparke moet tot 1 200 blesbokke en 40 elande uit die park verwyder word om verdere oorbeweiding te verhoed. (Foto: Argief)

“Skokkend genoeg het ’n munisipale reaksie in Oktober verklaar: ‘Wag vir die aanvoerketting om te adverteer.’ Die DA het toe ’n jagter gekontak wat bevestig het dat dit te laat is om uitdunning te oorweeg.

“Die situasie is onhoudbaar,” sê sy.

Die DA sê ’n omvattende strategie is nodig om die Wolhuterskop-reservaat as ’n funksionele ekologiese en ekonomiese bate te herstel wat inkomsteplanne (soos toerisme en eko-aktiwiteite), bewaringsbeplanning en volhoubare wildbestuur insluit.

“Daar is nie meer tyd vir burokratiese gesloer nie.

“Ons verbind ons daartoe om streng toesig te hou en openbare druk toe te pas om te verseker dat die Wolhuterskop-reservaat met ekologiese integriteit, deursigtigheid en verantwoordbaarheid bestuur word,” sê Senekal.

Saki Mokoena, LUR vir samewerkende regering, tradisionele sake en menslike nedersettings, het in Januarie vanjaar in die Vrystaatse wetgewer op ’n vraag van die DA gesê daar is 1 929 blesbokke, 40 blouwildebeeste, 40 sebras, 10 rooihartbeeste, 59 elande, 110 rooibokke en 100 springbokke in die reservaat. In dié stadium was daar nog 2404 stuks wild in die reservaat.

Hy het toe gesê dat Sanparke sal help met die uitdun van die wild waarvan die getalle te hoog is.

Die uitdunning het egter luidens die jongste verslae nog nie gebeur nie, sê die DA.

kaart
kaart (kaart)

More ToolsCancel

SPELETJIES VANDAG

CTA