Omgewing

Leeuloop: Ta ná 3 dae steeds soek

Die leeu se spore is op die plase Astral en Rietfontein gevind.
Die leeu se spore is op die plase Astral en Rietfontein gevind. (Foto: Verskaf)

Ná drie dae is die rondloperleeu in Bethlehem steeds nie opgespoor nie.

Dis ook nog onduidelik oor wie se leeu dit is.

Die Dihlabeng-munisipaliteit het Woensdag ’n waarskuwing oor die rondloperleeu uitgereik.

Lionsrock, ’n toevlugsoord van die dierewelsyngroep Four Paws buite Bethlehem, sê dis nie een van sy leeus nie.

Marie van Zyl, mede-eienaar van die Cheetau Lodge, ’n wild- en gasteplaas naby Bethlehem, het ook bevestig nie een van hul leeus word vermis nie.

Daar is wel nog ander leeuboere in die omgewing.

Van Zyl sê alle leeus moet met ’n mikroskyfie gemerk wees en daarom sal dit duidelik wees wie die eienaar is sodra die leeu gevang is.

Jane Buys, veiligheidskoördineerder van Vrystaat Landbou (VL), het Donderdag aan Netwerk24 gesê die leeu het nog nie boere se vee gevang nie.

Geen verdere spore van die leeu is ook op plase in die omgewing gevind nie.

Boere in die omgewing het spore van die leeu gevind en dit toe by die munisipaliteit aangemeld.

Die leeu se spore is vir die eerste keer op die plase Rietfontein en Astral gevind.

Tshediso Maitse, woordvoerder van die Dihlabeng-munisipaliteit, het inwoners aangemoedig om binnenshuis te bly.

Fiona Miles, direkteur van Four Paws, sê dié organisasie is op bystand om die plaaslike owerhede by te staan waar nodig.

Die organisasie moedig mense aan om inligting rakende die rondloperleeu van betroubare bronne te kry.

CTA