Misdaad

Plaasvoorman (65) op plaas buite Bethlehem vermoor

Die polisie in die Thabo Mofutsanyana-distrik het die afgelope week 38 verdagtes in hegtenis geneem weens ernstige gewelds- en eiendomsverwante misdade.

Volgens AO Mmako Mophiring, polisiewoordvoerder, het misdaad tussen 6 en 12 April in die gebied toegeneem, met moord, poging tot moord en verkragtings wat veral in die munisipale gebiede van Maluti-a-Phofung, Phumelela en Dihlabeng aangemeld is. In verskeie voorvalle is slagoffers tydens konfrontasies gesteek of geskiet.

Die polisie het bevestig dat Mohapi Joseph Jappie, ’n 65-jarige plaasvoorman op die plaas Broodkop buite Bethlehem, vermoor is. ’n Burger van Lesotho wat saam met hom op die plaas gewerk het, is in verband met die moord in hegtenis geneem.

Mophiring het aan Netwerk24 gesê Jappie se lyk is op 9 April op die toneel gevind. Sy hande was met sy skoenveters vasgebind en hy is met sy eie baadjie verwurg.

Die verdagte sal na verwagting binnekort in die landdroshof in Bethlehem verskyn.

Volgens Mophiring het die polisie op vier vuurwapens beslag gelê ná verskeie skietvoorvalle, onder meer tydens rusies by tavernes.

Wat seksuele misdrywe betref, is 14 verdagtes deur gespesialiseerde eenhede in Phuthaditjhaba, Bethlehem, Ficksburg en Vrede opgespoor en in hegtenis geneem. Die slagoffers wissel van minderjariges tot volwassenes. Sommige aanvalle het plaasgevind terwyl slagoffers snags alleen van tavernes huis toe gestap het.

In Mashaeng, Fouriesburg, is ’n vrou ook in hegtenis geneem weens die beweerde verkragting van ’n 20-jarige man.

Nog 14 verdagtes is weens die besit van vermoedelik gesteelde goedere aangekeer. Onder die artikels wat teruggevind is, tel skape, elektriese toestelle, verf, koperpype, klere en sinkplate.

Al die verdagtes het reeds in verskeie landdroshowe verskyn en bly in aanhouding hangende hul verhoor.

Die polisie sê die voorvalle dui op ’n hoë vlak van geweld in gemeenskappe, dikwels gekoppel aan alkoholmisbruik en huishoudelike konflik.

– robyn.schutte@media24.com

CTA