Matrieks

Matrieks in VS vaar beste in tale

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Taalvakke, sowel Afrikaans huistaal as Engels eerste addisionele taal, is die vakke waarin matrieks in die Vrystaat die beste gevaar het.

Volgens syfers wat Vrydag op die geselligheid vir die topmatrieks by die Sentrale Universiteit vir Tegnologie in Bloemfontein uitgereik is, was die provinsie se hoogste slaagsyfers vir Engels, Afrikaans en rekenaartoepassingstegnologie.

Foto's word van die topstudente van die Vrystaat geneem. Foto: Mlungisi Louw
Foto's word van die topstudente van die Vrystaat geneem. Foto: Mlungisi Louw

99,91% van die leerlinge het Engels eerste addisionele taal geslaag, 98,34% Afrikaans huistaal, 96,11% Afrikaans eerste addisionele taal en 95,98% Engels huistaal.

98,37% van die leerlinge wat rekenaartoepassingstegnologie geskryf het (3 388 uit die 3 444), het die vak geslaag.

Altesaam 35 634 leerlinge het begin 2023 geregistreer om die eindeksamen te skryf, terwyl 34 451 van hulle dit uiteindelik geskryf het.

Van hulle het 30 673 (89%) geslaag, terwyl 44,7% van die 2023-klas met universiteitsvrystelling geslaag het.

Die departement se syfers dui daarop dat die minste leerlinge wiskunde geslaag het.

Net 69,86% (8 974 van die 12 845) van die leerlinge wat wiskunde geskryf het, het die vak geslaag - effens meer as in 2022.

Die departement sê egter dat hy besig is met 'n aksieplan om wiskunde aanlokliker vir leerlinge te laat lyk sodat meer die vak neem.

Die tien topskole in die provinsie wat die beste in wiskunde gevaar het, ontvang elk R100 000 van die departement.

Hulle sluit in die Adelaide Tambo Secondary School, die Beacon Secondary School, die Hoër Meisieskool Oranje, Eunice High School for Girls, Grey Kollege, die Hoërskool Jim Fouché, die Lekgulo Secondary School, die Rantsane Secondary School, die Reahola Secondary School en die Hoërskool Trio.

Die slaagsyfer vir fisiese wetenskappe is 80,17% (8 290 uit die 10 340).

Die departement sê daar is sedert 2012 'n groei in die getal leerlinge wat die twee vakke neem.

Eunice in Bloemfontein is weer vanjaar die topskool in die provinsie wat wiskunde en fisiese wetenskappe betref.

Net 47 skole in die provinsie het 'n 100%-slaagsyfer behaal. Dit is vyf minder skole as in 2022.

19 van hierdie 47 skole (40,4%) is in informele gebiede geleë.

Linkie Bessinger

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM