N-Kaap blink uit met verbeterde matriekuitslae

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die drie topmatrikulante in die Noord-Kaap is van links Kari Louw van die Hoërskool Upington in die tweede plek, Jiawen Huang van die Kimberley Girls’ High School in die eerste plek en Erwin Lucas van die Baitiredi Technical and Commercial High School in Kuruman wat die derde plek beklee.
Die drie topmatrikulante in die Noord-Kaap is van links Kari Louw van die Hoërskool Upington in die tweede plek, Jiawen Huang van die Kimberley Girls’ High School in die eerste plek en Erwin Lucas van die Baitiredi Technical and Commercial High School in Kuruman wat die derde plek beklee. (Foto: Anena Burger)

Die Noord-Kaap het ’n sterk prestasie in die Nasionale Seniorsertifikaateksamen gelewer, met beduidende verbeterings in slaagsyfers en uitstekende individuele prestasies deur die provinsie se drie toppresteerders.

Die toppresteerder in die provinsie, Jiawen Huang van die Kimberley Girls’ High School, sê sy was geskok, maar baie bly toe sy hoor sy beklee die eerste plek. Sy skryf haar sukses toe aan die gereelde uitwerk van ou vraestelle, die bywoning van ondersteuningsklasse en aktiewe betrokkenheid by haar onderwysers.

“Ek het ook ’n punt daarvan gemaak om deur die jaar die onderwysers in my onderskeie vakke met oorspronklike vrae te peper waaraan ek gedink het.”Huang gaan vanjaar medies aan die Universiteit Stellenbosch studeer.

Kari Louw, wat die tweede plek behaal het, sê haar prestasie is die resultaat van jare lange harde werk en doelgerigte beplanning aan die Hoërskool Upington. Hoewel sy nie verwag het om in die topdrie te eindig nie, is sy trots op haarself. Sy beplan om bedryfsingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch te studeer.Sy sê sy was soggens om 05:00 reeds uit die vere om te leer, maar het darem vakansies ’n blaaskans geneem. Toe haar naam aangekondig is dat sy die tweede plek losgeslaan het, het haar hart amper uit haar bors gespring. “Ek het gedink ek sal dalk iewers tussen die top-10 en top-20 eindig, maar nie in my wildste drome het ek gedink ek sal die tweede plek haal nie.”

Erwin Lucas van die Baitiredi Technical and Commercial High School in Kuruman, ’n kwintiel 1-3-skool, is in die derde plek. Hy sê hy het deur sy hele skoolloopbaan gewerk om dié uitslae te behaal, maar steeds nie gedink hy sal die derde plek haal nie.

“Ek het vir die topvyf gemik, maar sjoe, ek kan nie glo ek is derde nie.” Sy studiemetode het ’n groot rol gespeel. Hy het verkies om bedags te studeer, en het ou vraestelle deurgewerk en opvoedkundige YouTube-video’s gekyk. Hy is ook ondersteun deur die Khumani Youth Development Programme (KYDP).

Op provinsiale vlak het 14 084 kandidate die eksamen afgelê, van wie 12 365 geslaag het – ’n slaagsyfer van 87,8%. Dit is ’n verbetering van 16,4 persentasiepunte sedert 2021. Distrikte soos Namakwa en ZF Mgcawu het slaagsyfers van bo 90% behaal, wat die provinsie se volgehoue opwaartse neiging bevestig.Dit blyk dat die Noord-Kaapse onderwysdepartement dalk net die wenresep gekry het, aangesien bykans die helfte van die leerlinge wat vanjaar die 20 topplekke in die provinsie beklee, van kwintiel 1- tot kwintiel 3-skole in minder gegoede gemeenskappe is.Dr. Zamani Saul, premier, het breed en trots geglimlag terwyl hy die aankondigings oor die uitslae gedoen het. Hy het gewys op hoe swak die provinsie slegs ’n paar jaar gelede nog gevaar het. “Jy kon met my toor so kwaad was ek daardie betrokke jaar, maar vanjaar kan ons trots wees. Dit is die vrugte van harde werk,” het hy gesê.

– anena.burger@24.com

SPELETJIES VANDAG

CTA