Julie 2003 was 'n goeie tyd vir die Vrystaat - dit is die maand waarin sy twee topleerlinge vir 2021, 'n voornemende dokter en meganiese ingenieur, gebore is.
Chané Nel (18) van die Hoër Meisieskool Oranje in Bloemfontein en Tlotliso Mofokeng (18) van Mookodi Secondary School in Phuthaditjhaba verskil net sewe dae van mekaar, met Tlotliso die oudste.

Chané het akademies algeheel die beste gevaar en Tlotliso is die topleerling vanuit 'n voorheen benadeelde skool.
Die Oranjeniet het nege onderskeidings behaal - 100% in Duits tweede addisionele taal, 99% in wiskunde, 98% in rekeningkunde en fisiese wetenskappe, 97% in lewensoriëntering en lewenswetenskap, 92% in Afrikaans-huistaal en Engels-huistaal, en 87% in ekonomie.
Tlotliso het sewe onderskeidings gekry - 100% in wiskunde en fisiese wetenskap, 99% in lewenswetenskap, 93% in lewensoriëntering, 88% in geografie en 81% in Sesotho-huistaal en Engels eerste addisionele taal.
Tlotliso sê hy het sy goeie uitslae verwag, maar hy wou nog beter gevaar het.
"Ek het verwag om bo 90% in my taalvakke te kry."
Oor sy uitsonderlike prestasie in wiskunde en fisiese wetenskap sê hy hy het ekstra werk ingesit met dié vakke en tot ses dae 'n week daaraan gewerk. Hy het baie vorige vraestelle uitgewerk.
"Om te sien hoe vorige leerlinge van my skool presteer, het my gemotiveer om goed te doen."
Hy gaan vanjaar meganiese ingenieurswese aan die Universiteit van Kaapstad studeer en droom daarvan om eendag in Amerika te woon.
Hy geniet dit om sokker te speel en sê hy gaan nie sy skoollewe mis nie; hy is opgewonde om met sy studies weg te spring.

Chané, wat vanjaar medies aan die Universiteit Stellenbosch studeer, was verheug en verlig toe sy as topkandidaat aangekondig is.
"Ek het maar gestres, want ek het nie so lekker geskryf nie. Dit het so 'n bietjie onrealisties gevoel dat ek dit nou bereik het."
Op die vraag waarom dit vir haar belangrik was om sulke hoë punte te behaal, sê sy: "Ek dink ek het geweet dit is my potensiaal en ek wou baie graag my potensiaal bereik."
Sy het daarvoor gemik om die topmatriek in die provinsie te wees, en dit behaal.
Charmaine, haar ma, sê as Chané haar kop op iets sit, werk sy vir daardie doelwit.
Dit was 'n dag van opgewondenheid en trane van blydskap vir Charmaine.
"Ons is baie opgewonde en dankbaar, bly vir haar. Sy het baie hard gewerk. Sy doen nog altyd goed, so ons is nog altyd trots op haar."
Charmaine was in 'n kaping voor Dealesville toe sy hoogswanger met Chané was.
"Dit was baie traumaties. Die dokters het gesê dit gaan dalk 'n uitwerking op die kind hê, maar dit lyk my nie so nie."
Chané is die kleindogter van wyle prof. Kerneels Nel, voormalige dekaan van die mediese fakulteit aan die Universiteit van die Vrystaat, en die akteur Carel Nel is pa André se broer.
Chané gaan haar prestasie onder meer vier met 'n braai Saterdag saam met haar skoolvriendinne wat ook op Vrydag se gelukwensingsgeselligheid was.
Altesaam 11 van Oranje was op die geleentheid.
Die Nel-gesin beplan ook 'n spitbraai vir Sondag saam met familie op hul plaas buite Brandfort.
Sy bedank haar onderwysers, waarvoor niks te veel moeite was nie, vir alles wat hulle vir haar gedoen het.
"Ek wil net dankie vir Jesus sê, want sonder Hom sou ek dit natuurlik nie kon doen nie."
Nog oor die provinsiale 2021-matriekuitslae:
* 13 971 leerlinge het universiteitsvrystelling gekry, teenoor 2020 se 11 462;
* 10 836 leerlinge het toelating tot diplomastudies, 'n toename van 2008 vergeleke met 2020;
* 1 520 meer kandidate as in 2020 het wiskunde geneem;
* Die wiskundeslaagsyfer het van 66,6% tot 66,7% gestyg; 8 494 het die vak in 2021 geslaag, teenoor 7 477 in 2020;
* Die slaagsyfer vir fisiese wetenskap van 75,1% is 3,9% hoër as in 2020;
* Die provinsie het 5 901 onderskeidings, lewensoriëntering uitgesluit;
* Die Ngwathe-munisipaliteit is die enigste provinsie wat
in 2021 die teiken van 'n 90%-slaagsyfer met 40%-
universiteitsvrystelling behaal het. Hy het 'n 90,3%-slaagsyfer met 42,5%-universiteitsvrystelling;
* 117, waarvan 56 in townships is, van 338 skole het die teiken van 'n 90%-slaagsyfer met 40%-universiteitsvrystelling behaal;
* Van die 3 235 leerlinge wat deurgesit is, het 1 665 leerlinge geslaag;
* Sewe leerlinge in die Groenpunt-gevangenis in Deneysville het die eksamen afgelê, waarvan drie universiteitsvrystelling en die res toelating tot diplomastudies verwerf het;
* Die departement van basiese onderwys het personeel van die nasiensentrum by die Albert Moroka High School Vrydag op die Vrystaat se geselligheid vir hul heldedaad vereer. Die sentrum is deur hael en stormsterkwinde getref en die personeel het hulself in gevaar gestel om al die antwoordstelle te red.



















