Die Hoërskool Bellville neem vanjaar met groot geesdrif deel aan die landwye Afrikaans 100-vieringe.
Die skool het verskeie inisiatiewe van stapel gestuur om die eeufees van Afrikaans as amptelike taal te vier.
As 'n ervare Afrikaans-onderwyseres lê die viering vir Thea Mc Geer, skoolhoof, besonder na aan die hart.
"Ek het ook vir die afgelope 30 jaar Afrikaans huistaal as vak gegee en opgetree as interne moderator vir Afrikaans. Ek verwag dus dat Afrikaans, veral in 2025 tydens die 100-jarige vieringe, suiwer gebesig word," sê sy.
Die skool se tema vir 2025 is "#TrotsAfrikaans". Dit word op alle sosiale media en kommunikasie gebruik, verduidelik Mc Geer.
Volgens haar lei hierdie fokus op Afrikaans tot "vele kopkrap-geleenthede vir personeel en leerders, maar ook vir verskeie lag-sessies wanneer unieke nuwe neologismes geskep word".
Die skool se viering van Afrikaans strek egter veel verder.
"Ten einde die Afrikaans 100-vieringe verder te ondersteun, het die skool die bekroonde Afrikaanse skrywer Fanie Viljoen onlangs as gas ontvang. Hy het die leerders geïnspireer om Afrikaans te lees," vertel Mc Geer.
Die skool het 'n ATKV-markdag aangebied waar daar onder meer aan heerlike opregte Afrikaanse geregte soos koeksisters gesmul is.
Een van die unieke inisiatiewe wat die skool van stapel gestuur het, is die ATKV-jeugtak se sokkie-reeks.
"Hiermee wil ons wys dat ons tot in ons sokkies trots is op ons taal," beaam Mc Geer.
Die skool speel ook 'n sentrale rol in die bevordering van Afrikaans op streeksvlak.
"Die Hoërskool Bellville dien as die trotse gasheerskool vir die Wes-Kaapse ATKV-redenaarskompetisie-uitdunrondes, sowel as die semi-finaal. 'n Geleentheid waar daar heerlik in Afrikaans beredeneer word," voeg sy by.


Daar sal ook 'n spesiale nuusbrief opgedra aan Afrikaans 100 verskyn.
Wanneer gevra word oor die betekenis van hierdie vieringe, is Mc Geer se antwoord diepsinnig: "Die Hoërskool Bellville dui só nie net hul verbintenis tot die taal Afrikaans aan nie, maar ook dat hulle dié taal wil behou en wil uitbou. Hulle ondersteun hierdeur die pragtige aanhaling van CJ Langenhoven: ‘Om jou een, eie taal tot nut te gebruik, is 'n groter kuns as om sewe nuwe tale by te leer.' "
Die skool het ook spesiaal die woord "Leeutrots" gekoop, 'n besluit wat diep in die skool se identiteit gewortel is. "Deel van die Hoërskool Bellville se ryke tradisie is geleë in die wete dat jy hier deel word van Leeuland.
"Die leeu is dus simbolies deel van ons karakter.
"Uiteindelik wil ons leerders kweek wat sinvol die wêreld kan betree, sterk soos 'n leeu, maar met mensekennis en vaardighede om op te tree met integriteit en menswaardigheid.
"Toekomstige landsburgers waarop ons trots - leeutrots - kan wees!" voeg sy met trots by.
Mc Geer beklemtoon die noodsaaklikheid van Afrikaans-vieringe in ons hedendaagse samelewing.
"Die taal Afrikaans swig soms in ons daaglikse gebruik onder die aanslae van Engels. As een van die min enkelmedium-Afrikaans-skole is dit altyd belangrik om ons taal te koester, te beskerm en met trots te gebruik.
"Daarom vier ons die feit dat óns taal 100 jaar oud is!"










