Sy het eers gedink haar dogter maak 'n grap toe sy die oggend nie wakker word nie. Maar toe sy sien die 19-jarige Alana Jonas se lippe is blou, het sy geweet iets is verkeerd.
Heidi Jonas sê dit is vir haar en die res van die gesin steeds onwerklik om te dink Alana is dood nadat sy Donderdagoggend 'n brein-aneurisme gehad het.
Heidi het Alana oudergewoonte 05:30 wakker gemaak met 'n koppie koffie in die bed. Sy het vir 'n BA-graad in visuele kommunikasie aan die Red & Yellow School in Kaapstad gestudeer.
Toe Heidi 'n tydjie later tuiskom nadat sy Janno (17), Alana se jonger broer, by die Hoërskool Bellville afgelaai het, was sy verbaas om haar dogter se motor steeds by die huis te sien.
"Ek het haar in die bed sien lê en gedink sy het weer ingesluimer. Toe ek haar nie kon wakker kry nie, het ek gedink sy grap met my. Toe sien ek die lippies is blou."
Heidi het mond-tot-mond-asemhaling toegepas en aanhoudend by die Here gepleit om haar dogter te spaar.

Haar man, Hein, was in Napier op pad na Nampo toe sy hom bel oor hul dogter. En terwyl sy op die lyn was, het hy ook die buurtwag in die hande probeer kry.
Heidi het toe by die bure gaan hulp soek, maar niemand was tuis nie. Uiteindelik het lede van die buurtwag hulle na die Netcare Kuilsrivier-hospitaal geneem.
Vir die personeel en mense wat haar dogter probeer red het, het sy net die hoogste lof.
Hoewel hulle ná 20 minute weer 'n sagte hartklop gekry het, is Alana nie lank daarna nie oorlede.
"Die bloeding op die brein was net te erg, dit was maar net te laat.
"Sy was gesond. Sy het geen hoofpyne gehad nie. As sy hoofpyn gehad het, sou sy vir ons gesê het."
Heidi sê haar dogter het groot drome gehad, dat mense lief was vir haar en dat sy die laaste paar maande baie gelukkig was.
"Dis net baie hartseer. Dit moet eintlik net nie só wees nie.

"En sy het 'n oog vir mooi sonsondergange gehad. Mens sal altyd dan maar aan haar dink."
Alana was ook 'n langafstandatleet en haar alma mater, die Hoërskool Bellville, gaan sy jaarlikse pretdraf, die Leeuloop, wat Saterdag plaasvind, aan haar opdra as 'n eerbetoning aan haar liefde vir sport en haar liefde vir die lewe.
Dr. Armin Gretschel, hoof van die neurovaskulêre diens op die Universiteit Stellenbosch se Tygerberg-kampus, het aan Netwerk24 gesê dié soort aneurisme kom gewoonlik by mense tussen 50 en 55 jaar oud voor.
"Hoewel dit selde op so 'n jong ouderdom gebeur, is dit nie heeltemal ongewoon nie."
Sy verduidelik dat brein-aneurismes asimptomaties is en hoofpyne is nie noodwendig 'n aanduiding daarvan nie.
"Mense wat so 'n aneurisme oorleef het, sê dit voel asof iemand jou met 'n krieketkolf oor die kop slaan. Dit is 'n onmiddellike, oorweldigende hoofpyn, nie soos 'n migraine wat opbou nie."
Volgens Gretschel word 2% van alle mense met 'n aneurisme gebore. Dit is 'n plek aan 'n bloedvat waar die bindweefsels swak is. Dit neem gewoonlik jare om 'n ballon te vorm - en dan bars dit gewoonlik skielik.
"As 'n mens skielik so 'n intense hoofpyn ervaar, moet jy onmiddellik mediese hulp kry. Sowat 40% van mense wat 'n brein-aneurisme kry, sterf, terwyl tot 15% dit gewoonlik nie eens tot by die hospitaal maak nie. Maar hoe vinniger jy behandeling kry, hoe groter is jou kans op oorlewing."
* Stefani Terblanche is 'n Netwerk24-beursjoernalis.


















