Hoewel Franco van Heerden en Miané Smit die eindronde van die Matrikulant van die Jaar-kompetisie van die Universiteit van die Vrystaat (UV), Netwerk24 en Volksblad elk op hul eie unieke manier ervaar het, is hulle dit eens dat die onderhoude met die beoordelaars redelik uitdagend was.
"Ek het kort-kort gedink ek moes dít dalk nie gesê het nie," sê Miané, wat verlede jaar die C & N Meisieskool Oranje in Bloemfontein se hoofmeisie was. "Die vrae het my aan goed laat dink waaroor ek nie altyd gedink het nie."

Vir Franco, wat die hoofseun van die Hoërskool Wessel Maree in Odendaalsrus was, was die groepsessies lekker, maar hy erken van die vrae was moeilik.
Die eindronde was vir albei 'n verrykende ervaring en hulle het iets oor hulself uitgevind.
"Ek het uitgevind ek is 'n introvert wat nie graag baie met mense meng nie," sê Franco, wat vanjaar rekenaarwetenskap en fisika studeer.
Miané, 'n BRek-student, weet nou sy is baie mededingend."Dis nie lekker om te verloor nie!"
Albei geniet hul studies en die studentelewe. Franco, wat op skool eerstespanrugby gespeel het, kaptein van die skool se eerste tennisspan was en in die provinsiale atletiekspan was, het in die somer aan atletiek deelgeneem. Miané, wat 'n lid van Krieket Suid-Afrika se o.19-vrouespan was, speel ook vir die UV en die Vrystaat krieket.
Skryf in!
Benewens akademiese prestasie, leierskapvaardighede, kultuur- en sportdeelname, moet deelnemers van voorneme wees om in 2025 heeltyds aan Kovsies te studeer.
Inskrywings kan deur leerlinge of deur hul skole ingedien word. Die vorm móét egter die handtekening van die skoolhoof en die stempel van die skool bevat.
Kandidate word beoordeel op grond van 'n stel kriteria wat oor jare verfyn is. Hierdie kriteria bepaal die identifisering van die 25 semifinaliste, waaruit eindelik 14 finaliste gekies word.
Die eindronde vind plaas van 30 September tot 2 Oktober in Bloemfontein.
Die wenner en 13 finaliste ontvang prysgeld van die borge: die Kovsie Alumni-Trust, Forvis Mazars, Absa en Pick n Pay Preller Walk. Daarbenewens word beurse van UV Studentewerwingsdienste toegeken, en geskenke ter waarde van R15 000 tydens die eindronde.
Vir die 11 semifinaliste is daar steeds erkenning. Hulle ontvang prysgeld van die Kovsie Alumni-Trust en beurse van UV Studentewerwing.
Alle inskrywings moet die UV teen Vrydag 2 Augustus bereik.
Vir inskrywingsvorms of meer inligting, stuur e-pos aan Linda Greyling by greylinl@ufs.ac.za of skakel 082 9299 999.
















