Die spertyd om digkuns in te skryf vir Beeld se kreatiewe skryfkompetisie is aangeskuif na 17 Julie.
Dit beteken digters het nou 'n bykomende maand om hul beste gedigte te kies om mee te ding in een van die poësie-afdelings.

Elize Engelbrecht, hoof van Beeld in Onderwys, is aan die stuur van die kompetisie en sê sy het "vele versoeke" van skole gekry om die sperdatum aan te skuif. "Dit was 'n besige jaar, propvol aktiwiteite en boonop was almal besig met eksamens."
Kreatiewe digkuns wat tussen Januarie en 30 Junie vanjaar geskep is, mag ingeskryf word in een van die vier poësie-afdelings.
Die poësie-afdelings is:
• Afrikaans huistaal (hoërskole);
• Afrikaans eerste addisionele taal (hoërskole);
• Afrikaans huistaal (laerskole); en
• Die poësie-afdeling vir onderwysers.
"Daar is 'n groot opgewondenheid onder die onderwysers dat hulle ook kan deelneem," sê Engelbrecht oor die afdeling vir onderwysers, wat vanjaar vir die eerste keer deel is van die kompetisie.
Op 26 Augustus sal die uitslae van die poësie-afdelings bekend gemaak word.
Benewens poësie het die kreatiewe skryfkompetisie ook die volgende afdelings:
• 'n Opstelafdeling en ope afdeling vir Afrikaans huistaal (hoërskole);
• 'n Opstelafdeling en ope afdeling vir Afrikaans eerste addisionele taal (hoërskole); en
• 'n Opstelafdeling en ope afdeling vir Afrikaans huistaal (laerskole).
Die ope afdeling word vanjaar by die opstelafdeling ingesluit.
Die opstelle se tema is elke deelnemer se eie keuse, maar die ope afdeling het 'n vaste tema. Vanjaar is die tema: "Wat ek die beste in Afrikaans kan sê."
Leerlinge kan vir die opstel- en die ope afdeling inskryf. Die ope afdeling word saam met die opstelafdeling beoordeel en daar sal net een wenner gekies word.
Die sluitingsdatum vir inskrywings in die opstel- en ope afdeling is 16 September. Kreatiewe skryfwerk wat leerlinge tussen Januarie en 31 Augustus geskryf het, mag ingeskryf word. Op 28 Oktober word die uitslae van die opstel- en ope afdelings bekend gemaak.
Dink jy jou gedigte kan meeding in een van die poësie-afdelings?
Hier is uittreksels uit 'n paar mededingers se skryfwerk.

So word daar gedig
Tharina Terblanche, 'n gr. 10-leerling aan Helpmekaar Kollege in Johannesburg, het haar gedig "Pappa" in die poësie-afdeling vir Afrikaans huistaal (hoërskole) ingeskryf.
"iemand gee my net pappa se nommer
sodat ek kan slaap en ophou wonder
ophou wonder oor wat skeef geloop het
en ophou wonder oor wat ek verkeerd
gedoen het
sodat ek pappa kan bel
en pappa al my stories kan vertel
en ek weet pappa sou luister
want op my wonde was pappa altyd die pleister
Pappa se hande en pappa se lag.
uit my was Pappa se hart altyd so sag
as ek gevra het: Pappa kom haal my
weet ek pappa sou . . ."
Eloba Mhlamvu, 'n gr. 12-leerling aan die Hoërskool Sybrand van Niekerk in Sabie in Mpumalanga, neem deel in die poësie-afdeling vir Afrikaans eerste addisionele taal (hoërskole).Sy dig oor 'n "emosionele vierrigting- straat".
"Na REGS
skyn die son
op 'n helder somersdag,
'n nuwe wêreld wat wag,
vryheid so wyd soos die Nyl...
Ek het gekies om voort te gaan.
Alles agter te laat . . ."
Thomas Beuthe, 'n gr. 7-leerling aan die Laerskool Muldersdrif aan die Wes-Rand, het oor sy beste vriend gedig vir die poësie-afdeling vir Afrikaans huistaal (laerskole).
"Jy beskerm my nou al 365 dae vir 13 jaar
Jy is my beste vriend sowaar
Jy vra so min maar gee soveel
Al wat jy wil hê is kos, water en soms 'n streel
Jy gaan oral met my saam
Jy is die mooiste prent in elke raam
As jy naby is voel ek glad nie meer skaam
Wat sal ek maak as jy verlore gaan?"
Marian Friskin, onderwyser aan die Hoër Tegniese Skool Tom Naude in Polokwane in Limpopo, het haar gedig "Vlees en Ivoor" in die poësie-afdeling vir onderwysers ingeskryf.
"Accelerando, Andante, Piano, Forté, Pianissimo…
Tot sý haar vingers laat gly
Sy haar hart uitgiet tussen wit en swart klawers
Sy haar storie vertel - en hy luister
Sy self kolletjies op lyntjies plot
Sy haar emosies nie meer voel nie, maar hóór
Sonder woorde - net sy en die ivoor . . ."

Verlede jaar se wengedig
Christiaan Wilken van die Hoërskool Jim Fouché in Bloemfontein was verlede jaar se algehele poësiewenner.
Hier is sy wengedig, "Lentetyd":
Die lente reën pers en wit
rondom jou
soos die bloeisels bot
Jy staan in 'n see vol
kosmosse en
ek staar met verwondering
na jou
Jy is alles én nog meer,
my stukkie geluk in hierdie
dowwe wêreld
Ek het te diep in jou oë
gekyk
en die reënboog gesien
Die laatmiddagson laat jou
ligteblou oë glinster
Jy lag, stamp speels aan my
en vra "wat kyk jy?"
ek stamp liggies terug,
bloos
en met 'n skewe glimlag
antwoord ek
"ag, dis sommer niks nie"
Skryf só in om groot pryse te wen
Besoek ebeeldskool.co.za voor die sluitingsdatums, kies "kreatiewe skryfkompetisie" en volg die instruksies.
Daar moet geregistreer word en elke leerling se getikte skryfstuk moet by die regte afdeling se registrasiedokument opgelaai word met volledige inligting (die leerling se naam, graad, soort skryfwerk, titel en kategorie).
Besoek ook ebeeldskool.co.za vir meer inligting oor en die bepalings en voorwaardes van die Kreatiewe Skryfkompetisie.
Beeld se Kreatiewe Skryfkompetisie se hoofborg is die Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON).
Die medeborg is Afrikaans.com (besoek afrikaans.com) en die kursusborg is Multidimensions (besoek multidimensions.co.za).Alle deelnemers sal sertifikate kry.
Die wenner in elke kategorie wen R3000 kontant, asook kursusse van R4900 van Multidimensions vir hulself en hul Afrikaans-onderwyser.
Die naaswenner in elke kategorie wen R1500 kontant, asook kursusse van R2500 van Multidimensions vir hulself en hul Afrikaans-onderwyser.
Die leerling wat die derde plek in elke kategorie behaal, wen R500 kontant, asook kursusse van R1500 van Multidimensions vir hulself en hul Afrikaans-onderwyser.
Die onderwyser wat die poësieafdeling vir onderwysers wen, wen R3000, die naaswenner R1500 en die een in die derde plek R500.)
• Verdere navrae kan per e-pos gerig word aan skool@ebeeldskool.co.za. Op ebeeldskool.co.zaza kan jy ook meer lees oor ander aanbiedings van Beeld in Onderwys.




















