MySkool

Welslae van deelnemers bepaal sukses van borgskap

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Om die suksesverhale te hoor van leerlinge wat aan die Matrikulant van die Jaar-kompetisie deelgeneem het, selfs jare ná hul deelname, bewys die sukses van Absa se borgskap van dié kompetisie van die Universiteit van die Vrystaat (UV), Netwerk24 en Volksblad.

Brian Mokete, streekbestuurder: openbare sektor (Absa Vrystaat en Noord-Kaap) en 'n eindronde-beoordelaar sedert 2022, sê dit is uiters bevredigend om te hoor hoe finaliste in die kompetisie op alle terreine presteer. "Dit is lekker om tydens die eindronde te hoor watter drome hulle het en om dan 'n paar jaar later te verneem hulle het dit verwesenlik."

Hy het beklemtoon dat Absa in die jeug en hul potensiaal glo. "Hulle is ons toekomstige leiers - daarom moet ons hulle in alles ondersteun.

"Die jong mense moet die boodskap kry dat hul stories saakmaak en ons moet hulle bemoedig om in hulself te glo."

Brian se ma het 'n groot rol in sy beroepskeuse gespeel.

Absa is al meer as 20 jaar as borge by die Matrikulant van die Jaar-kompetisie betrokke. Van links is Brian Mokete, streekbestuurder: openbare sektor (Absa Vrystaat en Noord-Kaap), Joshua Horak, die kompetisiewenner in 2022, en Thomas September, streekhoofbestuurder: premium besigheid (Absa Vrystaat, Noord-Kaap en Noordwes).                                 Foto: Siska Martin
Absa is al meer as 20 jaar as borge by die Matrikulant van die Jaar-kompetisie betrokke. Van links is Brian Mokete, streekbestuurder: openbare sektor (Absa Vrystaat en Noord-Kaap), Joshua Horak, die kompetisiewenner in 2022, en Thomas September, streekhoofbestuurder: premium besigheid (Absa Vrystaat, Noord-Kaap en Noordwes). Foto: Siska Martin

"Ek was in graad 10 toe my ma my eendag bank toe gestuur het in Botshabelo om geld te gaan deponeer. Dit was die eerste keer wat ek in 'n bank gekom het. Die tou was nie lank nie, maar het nie beweeg nie. Ek het heeltyd gewonder waarom dit so lank neem.

"Ek kon nie ophou dink aan my ervaring in die bank nie en het een van my onderwysers gevra wat ek moet doen om in die bank te kan werk. My vakke was reg en ek het bankwese aan die voormalige Technikon Vrystaat gaan studeer.

"Dit is omtrent 14 jaar later en ek is so dankbaar teenoor my ma, want as sy my nie daardie dag bank toe gestuur het nie, was ek op 'n heel ander pad."

Joshua Horak, wenner van die kompetisie in 2022 en vanjaar 'n tweedejaarstudent in rekeningkunde, kan nie uitgepraat raak oor hoeveel die kompetisie vir hom beteken het nie. Die groep vriende wat hy gemaak het, is vir hom die grootste voordeel.

Hy het dit veral geniet toe hy en die res van 2022 se finaliste as chaperones vir verlede jaar se groep moes optree. "Dit was groot pret, want daar was nie druk op ons nie en ons kon met almal gesels."

Joshua sal graag wil sien dat meer matrikulante in meer skole van die kompetisie moet weet en daaraan moet deelneem.

Om hulle te oortuig om deel te neem, sê hy net een ding - jy het niks om te verloor nie en alles om te wen!

Skryf jou só in

Inskrywings kan deur leerlinge of deur hul skole ingedien word. Dit móét egter die handtekening van die skoolhoof en die stempel van die skool bevat.

Kandidate word beoordeel op grond van 'n stel kriteria wat oor jare verfyn is. Só word 25 semifinaliste, waaruit uiteindelik 14 finaliste gekies word, aangewys. Die eindronde van die kompetisie is van 30 September tot 2 Oktober in Bloemfontein.

Die wenner en 13 finaliste ontvang prysgeld van die borge - die Kovsie Alumni-Trust, Mazars, Absa en Pick n Pay Preller Walk - asook beurse van UV Studentewerwingsdienste en geskenke ter waarde van R15 000 tydens die eindronde.

Die 11 semifinaliste ontvang prysgeld van die Kovsie Alumni-Trust en beurse van UV Studentewerwing.

Inskrywings moet die UV teen Vrydag 2 Augustus bereik. Vir inskrywingsvorms of verdere inligting, kontak Linda Greyling per e-pos by greylinl@ufs.ac.za of skakel 082 929 9999.

Siska Martin

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM