Die Cheetahs sal Saterdagaand met net twee veranderinge aan hul begin-vyftiental in hul Europese Uitdaagbeker-wedstryd teen Cardiff op Cardiff Arms Park opdraf.
Oupa Mohoje en Friedle Olivier ruil plekke op flank onder die agttal, terwyl die veelsydige Cohen Jasper linkervleuel in die plek van Prince Nkabinde speel.
Die Cheetahs sal nie Saterdagaand met Tinus de Beer te doen kry nie.
Dié losskakel van Cardiff herstel tans van harsingskudding. Hy het in sy speeldae by die Pumas die Vrystaters altyd op hul tone gehou.
Die Cheetahs hoop op 'n verbeterde vertoning nadat hulle nou 'n wedstryd agter die rug het.
Izak van der Westhuizen, afrigter van die Cheetahs, sê hulle het verlede week - toe hulle met 20-20 gelykop teen Perpignan gespeel het - te veel sagte drieë afgestaan.
Hy het ook die hoop uitgespreek dat hulle hul geleenthede dié keer beter sal benut.
"Ons verwag meer van 'n skopspel van Cardiff en het daarvoor voorberei die hele week."
Cardiff sal op sy beurt hom straks staal vir die rolmale van die Cheetahs se ervare agttal.
Cardiff word deur die voormalige Cheetahs-slot en voorspeler-afrigter Corniel van Zyl bygestaan.
"Hy is 'n ou wat goed voorberei, hy bestee baie tyd om teenstanders te ontleed," sê Van der Westhuizen.
Van der Westhuizen was by die juniors betrokke toe Van Zyl destyds die Cheetahs se voorspelers afgerig het.
Cardiff sal met 11 veranderinge aan sy beginspan op die veld draf.
Taulupe Faletau, gesoute Walliese agtsteman met meer as honderd toetse vir die Drake op sy kerfstok, maak Saterdag sy terugkeer nadat hy in April sy skouer beseer het.
Hy is een van ses veranderinge onder die agttal.
Liam Belcher, Cardiff se kaptein, maak ook 'n terugkeer op haker.
Callum Sheedy speel losskakel in De Beer se plek.
Cardiff gaan vir die tweede agtereenvolgende naweek 'n tiener inspan. Tom Bowen speel die naweek vleuel nadat die senter Steff Emanuel verlede week, toe die span met 26-37 teen Lyon vasgeval het, ook as 18-jarige sy buiging gemaak het.
Johan Mulder, voormalige skrumskakel van die Griekwas, is 'n plaasvervanger vir die Walliese span.
Die Cheetahs kon Cardiff in drie vorige wedstryde daar nog nooit klop nie, terwyl die Walliese klub ook nog nie in Bloemfontein kon wen nie.
Die spanne
• Cardiff: Cam Winnett, Josh Adams, Rey Lee-Lo, Ben Thomas, Tom Bowen, Callum Sheedy, Aled Davies, Taulupe Faletau, Dan Thomas, James Botham, Teddy Williams, Josh McNally, Will Davies-King, Liam Belcher (k), Corey Domachowski. PLAASVERVANGERS: Daf Hughes, Danny Southworth, Kieron Assiratti, Seb Davies, Alex Mann, Alun Lawrence, Johan Mulder, Rory Jennings.
Cheetahs: Michael Annies, Munier Hartzenberg, Carel-Jan Coetzee, Ali Mgijima, Cohen Jasper, Ethan Wentzel, Ruben de Haas, Jeandré Rudolph, Oupa Mohoje, Gideon van der Merwe, Victor Sekekete (k), Carl Wegner, Aranos Coetzee, Louis van der Westhuizen, Schalk Ferreira. PLAASVERVANGERS: Vernon Paulo, Hencus van Wyk, Robert Hunt, Pierre Uys, Friedle Olivier, Daniel Maartens, Rewan Kruger, George Lourens.
Skeidsregter: Eoghan Cross (Ierland).
Afskop:Saterdag 22:00 (SS 210).




















