Wie is nou die mentor, en wie is die protégé?
Andy Farrell, Joe Schmidt se hulpafrigter vyf jaar gelede by die Iere, se Ierland het Saterdag vir Australië, onder leiding van Schmidt, met 22-19 in Dublin verslaan.
Hulle het so die Wallabies met slegs twee oorwinnings uit vier Jaareind-toetse met die kous oor die kop teruggestuur na Doer Onder.
Dié sege sou boonop uiters bemoedigend gewees het vir Farrell, wat volgende jaar die Britse en Ierse Leeus in Australië sal afrig.
Hoewel die lynstane aanvanklik gelol het, was dit uiteindelik Ierland se kragspel vanaf dié vaste faset wat die deurslag gegee het. Al drie die Iere se drieë, insluitende die wendrie in die laaste sewe minute, het vanaf verwoede lynstaandrywe gekom.
Die Wallabies het, ietwat teen die verloop van die spel, met rustyd met 13-5 voorgeloop, maar hul kanse beter benut as die Iere.
Die gevaarligte het vroeg geflikker vir die toerspan met Ierland se losskakel, Sam Prendergast, wat met gemak vir die heelagter, Hugo Keenan, in 'n gaping geplaas en die beweging wat skaars vyf meter van die doellyn skipbreuk gely het. Die 21-jarige Prendergast het deurgaans beïndruk met sy vertraagde aangeë waarmee hy sy spanmaats in gapings kon plaas.
Die Iere het sowel balbesit as gebiedsvoordeel geniet en beslis meer ondernemende rugby agterlangs opgedis, maar die finale aangeë het telkens verlore gegaan.
Die Aussies het eerste gedruk, halfpad deur die eerste helfte, toe Max Jorgensen afgerond het in die hoekie, nadat die Wallabies met mening aangeval het vanaf omgekeerde besit.
Australië het dikwels gevaarlik gelyk vanuit gebroke spel, en, hoewel die Iere vir hom opdraande gegee het in die skrums, het die Wallabies ook by 'n paar geleenthede die tuisspan se lynstaanballe gegaps.
Ierland het nietemin sy eerste twee drieë, deur die losvoorspelers Josh van der Flier en Caelan Doris, behaal ná meedoënlose druk vanaf aanvallende lynstane. Die tweede, deur die kaptein en Speler van die Wedstryd, Doris, kort ná rustyd, het vir die eerste keer aan Ierland 'n voorsprong van 15-13 verskaf.
Dit was egter van korte duur met die Wallaby-skerpskutter Noah Lolesio wat met 'n derde en vierde strafdoel geslaag het om sy span weer met vier punte te laat voorloop met skaars 'n kwartier se speeltyd oor.
Die Aussies moes in die laaste 10 minute verdedig vir al wat hulle werd was. In die 73ste minuut het Ierland se reserwe-haker, Gus McCarthy, onkeerbaar oorgedryf vanaf nóg 'n lynstaan om die finale spyker in die Wallaby-kis te slaan.
Puntemakers
Ierland 22 (5): Drieë: Josh van der Flier, Caelan Doris, Gus McCarthy. Doelskoppe: Sam Prendergast, Jack Crowley. Strafdoele: Prendergast.Australië 19 (13): Drieë: Max Jorgensen. Doelskop: Noah Lolesio. Strafdoele: Lolesio (4).




















