Gholf

Parry wen Mauritius-Ope met twee houe

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
John Parry van Engeland het Sondag die Mauritius-Ope op die Mont Choisy Le Golf-baan met twee houe gewen. Foto: Getty Images
John Parry van Engeland het Sondag die Mauritius-Ope op die Mont Choisy Le Golf-baan met twee houe gewen. Foto: Getty Images

Die Engelsman John Parry het Sondag die Mauritius-Ope op die Mont Choisy Le Golf-baan met twee houe gewen danksy 'n puik vierde ronde-telling van 64 - agt houe beter as baansyfer.

Parry, wat oor die eerste drie dae tellings van 70, 69 en 71 aangeteken het, het 'n agterstand van vyf houe gehad toe hy in die laaste ronde afgeslaan het.

Hy het vier voëltjies en 'n arend oor sy laaste sewe putjies behaal en uiteindelik met twee houe geseëvier.

Suid-Afrika se Christo Lamprecht (65) en Dylan Naidoo (71) het die tweede plek gedeel op 12 houe beter as baansyfer vir die toernooi.

Parry het in 2010 sy eerste toernooi in die DP World-reeks (destyds die Europese reeks) gewen, maar het sedertdien gesukkel en het dit in 'n stadium oorweeg om beroepsgholf te los.

"Ek het my eerste toernooi gewen toe ek 23 was en dit was sedertdien 'n lang en steil pad vir my. Ek was baie naby daaraan om op te gee, maar dié oorwinning maak alles die moeite werd," het Parry gesê.

Die sege span die kroon op 'n merkwaardige jaar vir hom.

Hy het drie keer in die Europese uitdaagreeks gewen en was ook verlede week in die Dunhill-kampioenskap op Leopard Creek 'n sterk aanspraakmaker.

Parry het uiteindelik gesamentlik tweede geëindig met die Pretorianer Shaun Norris wat as die Dunhill-kampioen gekroon is. - Sportredaksie

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM