Tiger Woods se ma sterf

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Tiger Woods se ma, Kultida, is Dinsdagoggend oorlede.

Die Amerikaanse gholfspeler het nie die oorsaak van sy ma se dood bekend gemaak nie.

Tiger Woods en sy ma, Kultida, in 2022. Foto: AP
Tiger Woods en sy ma, Kultida, in 2022. Foto: AP

"Dit is met groot hartseer dat ek die nuus deel dat my ma, Kultida Woods, vroeër vanoggend oorlede is," het die wenner van 15 majors op X geskryf.

"My ma was 'n formidabele vrou, haar gees was ongekend. Sy was vinnig met 'n naald en 'n lag. Sy was my grootste ondersteuner, sonder haar sou geen van my persoonlike prestasies moontlik wees nie.

"Baie het haar lief gehad, veral haar twee kleinkinders, Sam en Charlie. Dankie vir al jul ondersteuning, gebede en respek vir privaatheid in hierdie moeilike tyd vir my en my gesin. Ek het jou lief, Ma."

Kutilda Woods (81) het verlede week haar seun se TGL-wedstryd in Suid-Florida bygewoon, waar sy Jupiter Links-klub te staan gekom het teen Rory McIlroy se Boston Commons-span.

Woods-hulle het naelskraap met 3-4 teen McIlroy se span verloor.

Die TGL is 'n liga wat Woods en McIlroy saam met die PGA-reeks begin het en is deels virtueel.

Woods het verlede jaar hulde gebring aan sy ma toe hy die Amerikaanse Gholfvereniging se grootste eerbewys, die Bob Jones-toekenning, ontvang het.

"My ma kry nie genoeg erkenning nie. Almal dink dit was my pa (Earl) toe ek begin meeding het, maar my ma was tuis.

"My ma was daar in my hele lewe, deur dik en dun."

Kultida is in 1960 getroud met Earl Woods en Eldrick "Tiger" Woods is in 1975 gebore.

Kultida is in Thailand gebore.

Earl Woods (74) is in 2006 oorlede. - Field Level Media

SPELETJIES VANDAG

CTA