Die Rocks en Westelike Provinsie se laaste ligawedstryd in die eendagbekerreeks Vrydag in die Paarl kan as 'n halfeindstryd beskou word.
Die Rocks, van die Boland, het hul aanslag in dié kompetisie lewend gehou deur die Dragons Woensdag met 'n bonuspunt in die Paarl te klop.
Dit het hulle op 14 punte te staan gebring, wat hulle binne bereik geplaas het om die WP (18 punte) verby te steek vir 'n plek in die eindstryd. As die Rocks wen, maar sonder 'n bonuspunt, en albei spanne dan op 18 punte eindig, sal die Rocks deurdring omdat hulle die wenners in die spanne se ligastryd was.
Die Lions, wat met twee wedstryde oor reeds hul plek in die eindstryd bespreek het, wag volgende week in die eindstryd op die span wat Vrydag in die Paarl die kompetisie in die tweede plek afsluit.
Die Rocks moes Woensdag slegs 139 lopies vir 'n sege aanteken en het dit met Clyde Fortuin (63*) en Michael Copeland (53*) in minder as 23 beurte vermag met nog sewe paaltjies staande.
Die draaier Shaun von Berg was die Speler van die Wedstryd vir sy 3/19 wat gehelp het om die Dragons vir 'n skamele 136 lopies uit te boul.
Die Lions het Woensdag in Gqeberha teen die Warriors in 'n lopiefees, wat vier honderdtalle opgelewer het, hul eerste nederlaag in die reeks gely.
Die Warriors het 'n stewige 348/5 opgestapel. Tristan Stubbs (144) en die kaptein, Diego Rosier (116), het honderdtalle vir die wenspan gemoker.
Die Lions was in die knyp op 56/3 in die 11de beurt, waarna Reeza Hendricks (113) en Wiaan Mulder (101) ook honderdtalle aangeteken het.
Hulle het 195 lopies om die vierde paaltjie opgestapel in die besoekers se kolfbeurt van 298 lopies.
Die naatbouler Beyers Swanepoel het met boulsyfers van 4/42 vir die Warriors uitgeblink.
Die Lions speel Vrydag in hul laaste wedstryd teen die Dolphins in Durban.
In die derde wedstryd Vrydag is die Knights in Bloemfontein gasheer vir die Titans in 'n dagwedstryd.
Die eindstryd word komende Donderdag beslis.










