WP klop begeesterde Boland in Kaapse derby

Die Streeptruie se Jonathan Roche duik Saterdag oor vir sy drie met die Boland se Lunathi Nxele te laat om hom te stuit.
Die Streeptruie se Jonathan Roche duik Saterdag oor vir sy drie met die Boland se Lunathi Nxele te laat om hom te stuit. (Foto: Jaco Marais)

Die houtlepel behoort steeds aan die Westelike Provinsie, maar die Streeptruie het darem nie hul Curriebeker-veldtog segeloos afgesluit nie.

Dit het egter die toetrede van ’n hele klomp Stormers geverg om die begeesterde Boland-Kavaliers Saterdag in die DHL-stadion in Kaapstad met 40-22 te tem.

Boland het met groot oorgawe gespeel en was met die rustyd met 8-7 voor, maar uiteindelik was die WP se gehalte bepalend.

Hoe dit ook al sy, die Kavaliers het dit vir die eerste keer in die beroepsera tot in die halfeindronde van die Curriebeker-reeks gemaak.

Die laaste hoofstuk in hul veldtog is nog nie geskryf nie. Ongeag wat vorentoe gebeur, verdien hul poging vanjaar om gevier te word.

John Dobson, die Stormers se afrigter, sal tevrede voel met wat uit die Kaapse perspektief die eerste van twee opwarmwedstryde was voordat hul veldtog in die Verenigde Rugbykampioenskap (VRK) op 26 September op dieselfde veld teen Leinster afskop.

Die WP-spelers het aanvanklik met hul samespel gesukkel, maar dis verstaanbaar. Die meeste van hulle was effektief in hul voorseisoen.

In die lynstane het dit veral gelol en het die WP ’n hele klomp van sy ingooie in die eerste helfte verloor.

Dis ’n faset waarin die Stormers verlede seisoen swak was, en ’n mens kan maar net hoop dat hierdie vertoning nie op ’n voortsetting daarvan dui nie. Maar ja, dis heeltemal te vroeg om enige gevolgtrekkings te maak.

Die eerste helfte veral sou die Stormers baie goed gedoen het.

Die Kavaliers se agtsteman se kaptein, Thurlow Marsh, sit op loop met die WP-senter Ruhan Nel wat verdedig.
Die Kavaliers se agtsteman se kaptein, Thurlow Marsh, sit op loop met die WP-senter Ruhan Nel wat verdedig. (Foto: Jaco Marais)

’n Mens kon sien hoe hard die Kavaliers bereid was om te baklei vir ’n halfeindstryd op hul tuisveld. Hulle het die WP hard laat werk op die verdediging. Op sy beurt het die WP ongeorganiseerd op die aanval gelyk.

In die tweede helfte het die WP sommer vroeg al gewys wie die baas van dié plaas is.

Adré Smith het die eerste van sy twee drieë gedruk om aan die tuisspan ’n voorsprong te gee waarop hy daarna bestendig voortgebou het.

Boland se taak is bemoeilik ná ’n geel kaart aan sy vaskopstut, Dayan van der Westhuizen. Leolin Zas en Jonathan Roche het in sy afwesigheid albei die doellyn oorgesteek.

Die Kavaliers het nooit tou opgegooi nie en teen die einde hard probeer om die bonuspunt vir ’n vierde drie te kry. Daar was ’n opflikkering van hoop toe Llewellyn Classen ses minute voor die einde hul derde drie gedruk het, maar daar was net nie genoeg oor in die tenk vir nog een nie. - stephen.nell@24.com

Puntemakers:

WP 40 (7): Drieë: Vernon Matongo, Adré Smith (2), Leolin Zas, Jonathan Roche, Marcel Theunissen. Doelskoppe: Jurie Matthee (5).

Boland-Kavaliers 22 (8): Drieë: Dayan van der Westhuizen, Donovan Don, Llewellyn Classen. Doelskoppe: Jayden Bantom (2). Strafdoel: Juan Mostert.

SPELETJIES VANDAG

CTA