Buttler vs. Miller: Dinamiet-eindstryd

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Robin Peterson
Robin Peterson

Die kolf-spierkrag van Jos Butt­ler en die feit dat die Rajasthan Royals die euforie van 2008 wil herhaal om hul legendariese eerste kaptein, wyle Shane Warne, te huldig, kan dalk vandag aan hulle die binnebaan na glorie gee in die IPL-eindstryd.

Dis die mening van die voormalige Suid-Afrikaanse speler Robin Peterson.

Rajasthan pak die Gujarat Titans van vandag om 16:30 in die Narendra Modi-stadion in Ahmedabad voor 100 000 toeskouers.

Buttler het vanjaar in die IPL reeds 824 lopies behaal, waaronder vier honderdtalle.

Vrydag, in die tweede kwalifiseerder teen die Royal Challengers Bangalore, het die Engelse T20-aanvangskolwer 'n onoorwonne 106 van 60 aflewerings aangeteken om die Royals tot in die eindstryd te moker.

Peterson verwys ook na die goeie ondersteuning vir Buttler in die top-orde. Sanju Samson het vanjaar al 444 IPL-lopies geslaan. Sy spanmaat Shimron Hetmyer spog met 'n gemiddeld van 50.50 in vanjaar se IPL.

Die agt keer dat Rajasthan se gewrigdraaiers, Yuzvendra Chahal (26 paaltjies vanjaar) en Ravi Ashwin (12 paaltjies), saam meer as drie paaltjies geneem het, het Rajasthan geseëvier. "Voeg die naatboulers Prasidh Krishna, Obed McCoy en Trent Boult daarby en jy het 'n amper volmaak gebalanseerde boulaanval," sê Peterson.

Die Gujarat Titans kan egter die Warne-huldigingspartytjie bederf voor hul tuisskare.

Die middelorde van Killer Miller, Iceman en Kung Fu Pandya is straks die beste in die IPL-kompetisie. Hardik (Kung Fu) Pandya, David (Killer) Miller en Rahut (Iceman) Tewatia het saam die seisoen minstens vyf wedstryde vir die Titans gewen.

'n Klassieke voorbeeld was Maandag in die eerste kwalifiseerder. Die SA kolfsensasie Miller het, met 16 nodig vir 'n oorwinning van ses balle, Krishna vir drie agtereenvolgende sesse gepleister in die 20ste beurt.

SPELETJIES VANDAG

CTA