Derde keer skeepsreg vir Dolphins?

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Keshav Maharaj het nogmaals uitgeblink vir die Dolphins en ses paaltjies laat kantel.
Keshav Maharaj het nogmaals uitgeblink vir die Dolphins en ses paaltjies laat kantel.

Die Dolphins se krieketspan het Vrydag sy plek in 'n derde eindstryd van die seisoen bespreek.

Die Dolphins het einde Januarie tot die eindstryd van die eendagbeker-reeks deurgedring, maar moes die louere deel met die Lions nadat die eindstryd uitgereën het.

Hulle was ook een van die beste spanne in die T20-reeks in Durban verlede maand, maar het toe oor die laaste hekkie teen die Lions gestruikel.

Imraan Khan, die Dolphins-afrigter, het krediet aan sy spelers gegee vir dié goeie vertonings die afgelope seisoen.

Dis verblydend, veral omdat dit 'n hele klomp spelers in die groep is wat uitgeblink het in die verskillende reekse.

—  Imraan Khan

"Dis verblydend, veral omdat dit 'n hele klomp spelers in die groep is wat uitgeblink het in die verskillende reekse," het Khan aan Netwerk24 gesê.

Die Durbanse span het die Warriors met sewe paaltjies in Gqberha (Port Elizabeth) geklop om sy plek te verseker in die eindstryd teen die Titans, wat Donderdag in Durban begin.

Die eindstryd word oor vyf dae beslis met die spanne wat die louere sal deel as die wedstryd onbeslis eindig.

Die Dolphins het Vrydag 123/3 aangeteken om die oorwinning oor die Oos-Kapenaars te verseker.

Die besoekers het die eerste twee dae van die wedstryd oorheers, maar die Warriors het Donderdag teruggeveg danksy Ed Moore se beurt van 155 lopies.

Al die goeie werk is ongedaan gemaak toe die Warriors hul laaste ses paaltjies vir net 34 lopies verloor het. Die Protea-draaier Keshav Maharaj het die soveelste keer dié seisoen die skade aangerig en het met 6/93 geëindig.

Die Cape Cobras se George Linde het 7/29 teen die Knights op Nuweland geneem. Foto: Gallo Images
Die Cape Cobras se George Linde het 7/29 teen die Knights op Nuweland geneem. Foto: Gallo Images

"Dit is goed om te sien dat al Keshav se harde werk vrugte afgewerp het," sê Khan.

• Ná 17 meerdag-kragmetings sonder 'n sege die afgelope twee seisoene, het die Cape Cobras Vrydag 'n reuse-oorwinning oor die Knights op Nuweland in Kaapstad behaal.

Die Cobras het met 'n beurt en 215 lopies gewen nadat die Knights vir net 127 in hul tweede beurt uitgeboender is.

Die Cobras het Vrydagoggend net meer as 15 boulbeurte benodig om die laaste drie paaltjies te laat kantel. Die Protea-draaier George Linde het al die paaltjies geneem. Sy 7/29 is die beste boulontleding van sy eersterangse loopbaan.

Dit was die Cobras se eerste oorwinning in 'n meerdagstryd sedert Januarie 2019.

• Die Titans en die Lions se kragmeting op die Wanderers het onbeslis geëindig.

Die Lions het Vrydagoggend hul tweede beurt op 308/9 gesluit verklaar om die Titans 'n teiken van 313 te stel.

Wiaan Mulder was nie uit nie op 56.

Die Titans het toe 149/2 bereik voordat die spanne blad geskud het. Die Proteas se aanvangspaar, Dean Elgar (68) en Aiden Markram (64), het in 'n goeie vennootskap gedeel.

Altus Momberg

SPELETJIES VANDAG

CTA