Reën het ook die tweede dag van die meerdagwedstryde in Bloemfontein en Potchefstroom in die wiele gery, terwyl net 20 balle in Centurion afgestuur is.
Geen spel was tot dusver moontlik nie in die Knights en Lions se wedstryd in die Rosestad en die een tussen die Dragons en Westelike Provinsie in Potchefstroom.
Die wedstryd in Bloemfontein kan dalk reeds Saterdag afgelas word. Die spanne sal dan elk net vyf punte kry.
In Centurion het die Boland van 156/5 na 159/5 teen die Titans gevorder toe spel vir die dag afgelas is.
• TELKAART
Spel is ook Vrydag in Gqeberha in die wedstryd tussen die Warriors en Dolphins vir 'n ruk gestaak.
Die Warriors het hul neus voor gehad te danke aan Senuran Muthusamy se onoorwonne honderdtal en die jong CJ King se eerste vyftal aan paaltjies.
Muthusamy (106*, 216 balle; 15x4, 1x6) het die tuisspan gehelp om 264 in sy eerste beurt te kry.
Muthusamy en Renaldo Meyer (6) het Vrydag op 244/9 voortgekolf.
Die Warriors se 20-jarige aanvangsbouler King het toe met 5/61 in slegs sy vierde eersterangse wedstryd uitgeblink in die Dolphins se eerste beurt van 208 lopies.
Hy het hulle aan die begin met drie paaltjies in drie agtereenvolgende boulbeurte op 36/3 ná nege boulbeurte in die moeilikheid gehad.
• TELKAART
Op 148/8 het Prenelan Subrayen (49*) en Tristan Luus (21) aansien aan die besoekers se eerste beurt gegee.
Die Warriors het uitskeityd 42/0, 'n voorsprong van 98 lopies, gehad. - Johann de Jager, supersport.com


















