Die Westelike Provinsie het met die relegasie-spook wat in sy nek geblaas het, 'n broodnodige sege oor die Titans op die derde dag van hulle plaaslike meerdagstryd Saterdag in Centurion behaal.
Die Kapenaars moes 186 lopies in hul tweede beurt aanteken om te wen.
Twee van Shukri Conrad se toetskolwers, Tony de Zorzi (78*) en David Bedingham (67), het WP gehelp om 187/3 in 37 beurte te slaan vir die oorwinning.
Die belowende Dewald Brevis (99, 110 balle; 16x4, 3x6)
het vroeër die dag sy vierde eersterangse honderdtal net misgeloop.
Hy het op 44 voortgekolf toe die tuisspan sy tweede beurt op 108/4 voortgesit het.
Die Titans is toe vir 211 in hul tweede beurt uitgeboul, met die aanvangsbouler Jody Lawrence (4/39) wat die beste met die bal onder die WP-boulers gevaar het.
• 'n Opwindende einde wag Sondag op die laaste dag in Durban waar die Dolphins (14/0) nog 224 benodig om die Dragons te klop.
Die tuisspan is in die posisie nadat die draaier Bryce Parsons in die afwesigheid van die beseerde Keshav Maharaj met 5/28 uitgeblink het in die Dragons se tweede beurt van 186.
Maharaj is in die Dragons se eerste kolfbeurt beseer.
• Matthew de Villiers het die Warriors met 'n onoorwonne 194 (218 b; 27x4) teen die Knights in die Baai in 'n baie stewige posisie geplaas.
Die Knights het vroeër 191 in hul eerste beurt in antwoord op die Warriors se 171 aangeteken.
Met De Villiers steeds daar het die tuisspan met uitskeityd op die derde dag 340/4, 'n voorsprong van reeds 320, gehad.
• Geen spel was moontlik op die derde dag in die Paarl waar Boland teen die Lions speel nie.
Die Lions het 42/1 in sy eerste beurt, ná Boland vroeër 229 aangeteken het.
* Bykomende bron: SuperSport.com


















