De Klerk loop Protea-vroue se oefenkamp mis

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Nadine de Klerk verlede maand in aksie in Potchefstoom in ’n eendagwedstryd tussen Suid-Afrika en Sri Lanka.  Foto: Gallo Images
Nadine de Klerk verlede maand in aksie in Potchefstoom in ’n eendagwedstryd tussen Suid-Afrika en Sri Lanka. Foto: Gallo Images

Die veelsydige Nadine de Klerk gaan die Proteas se komende oefenkamp misloop omdat sy tans krieket in Engeland speel.

Krieket Suid-Afrika het bekend gemaak dat 'n groep van 17 spelers van Sondag tot eerskomende Vrydag in Pretoria sal saamtrek. Die spelers sal Maandag mediese ondersoeke ondergaan.

Die toer in Indië begin met 'n oefenwedstryd op 13 Junie teen 'n uitnodigingspan in Bengaluru en sal ook uit drie eendag- en drie T20-wedstryde, sowel as 'n enkele toets bestaan.

De Klerk (24) doen tans diens vir die The Blaze in Engeland. Sy het verlede week 'n onoorwonne 106 lopies van 113 balle teen die Western Storm in 'n eendagwedstryd aangeteken.

De Klerk sal wel beskikbaar wees vir die toer in Indië.

Miané Smit speel haar provinsiale krieket vir die Vrystaat.  Foto: Gallo Images
Miané Smit speel haar provinsiale krieket vir die Vrystaat. Foto: Gallo Images

Twee spelers wat nog nie voorheen vir die Proteas gespeel het nie, die 19-jarige Miané Smit en Seshnie Naidu (18), is na die oefenkamp genooi. Albei dié spelers was in 2023 deel van die Suid-Afrikaanse span wat aan die T20-Wêreldbeker-toernooi vir o. 19-spanne op tuisbodem deelgeneem het. Smit speel haar provinsiale krieket vir die Vrystaat en Naidu vir die Dolphins. Albei is veelsydige spelers.

Drie spelers wat nog herstel van beserings, Tazmin Brits (knie), Ayanda Hlubi (lies) en Chloé Tryon (rug), sal die mediese ondersoeke wat aan die begin van die kamp plaasvind, ondergaan.

Seshnie Naidu in aksie vir die Dolphins in 'n T20-wedstryd in Maart in Durban.  Foto: Gallo Images
Seshnie Naidu in aksie vir die Dolphins in 'n T20-wedstryd in Maart in Durban. Foto: Gallo Images

Die 16-jarige Protea-paaltjiewagter Karabo Meso sal ook nie deel van die oefenkamp wees nie omdat sy in Ierland is as deel van 'n uitruilprogram.

GROEP:

• Proteas se groep vir oefenkamp: Anneke Bosch, Annerie Dercksen, Mieke de Ridder, Lara Goodall, Sinalo Jafta, Marizanne Kapp, Ayabonga Khaka, Masabata Klaas, Suné Luus, Eliz-Mari Marx, Nonkululeko Mlaba, Seshnie Naidu, Tumi Sekhukhune, Nondumiso Shangase, Miané Smit, Delmi Tucker, Laura Wolvaardt.

SPELETJIES VANDAG

CTA