Dercksen dodelik danksy Dillon, Devnarain

Die plaaskrieket saam met haar broer, Seppie, by Beaufort-Wes het gehelp. So ook die "skop op die agterstewe" deur haar nasionale akademie-afrigter, Dinesha Devnarain. én Dillon du Preez se verstellings toe sy van draaibouler na naatbouler versool is.

Annerie Dercksen
Annerie Dercksen

Een ding is seker: Seppie, Dinesha en Dillon het gehelp dat Annerie Dercksen die afgelope drie maande sterk op die voorgrond tree vir die Protea-vrouespan.

Maar die tekens was reeds daar lank voordat die 23-jarige Dercksen onlangs in Kimberley met 3/16 en 'n blitsige 27 die Protea-vroue na 'n sege met ses paaltjies teen Engeland gelei het, en in Bloemfontein in die ongewone posisie van nr. 3-kolwer 41 behaal het in die toetsnederlaag teen Engeland.

Sy het ook verlede jaar met 'n paar blitsbeurte vir die SWD-Badgers vorendag gekom.

Sy erken haar broer teen wie sy op hul plaas Grootfontein by Beaufort-Wes sosiale krieket gespeel het, het daardie wedywerende gees in haar sterker gemaak. "Albei van ons wou net kolf, en dit was dikwels moeilik om die kolf uit ons hande te kry," sê sy.

Haar pa, Daan, het 'n slaghuis op die dorp gehad. En op die plaas was daar net 'n Lister-enjin om vir die krag te sorg, omdat Eskom toe nog nie elektrisiteit verskaf het aan boere rondom dié dorp in die Groot-Karoo nie.

"Die eerste vroue-krieketwedstryd wat ek op TV gevolg het, was Suid-Afrika se halfeindstryd in die Wêreldbeker-toernooi van 2017," onthou sy.

Toe sy op Hoërskool Sentraal op Beaufort-Wes was, het Daan begin om sonpanele aan die boere rondom die dorp te verkoop. As tiener het sy provinsiale netbal vir Wes-Kaap gespeel en provinsiale atletiek vir SWD beoefen.

Devnarain gee jou daardie skop op die agterstewe en sê: Luister, dis onaanvaarbaar.

Terwyl sy daarna aan die Universiteit van die Vrystaat gestudeer het, het Du Preez, tot onlangs tussentydse hoofafrigter van Suid-Afrika, haar oorreed om liefs haar draaiboulwerk te laat vaar en haar toe te spits op naatboulwerk.

"Alles wat ek van naatboulwerk weet, het ek by hom geleer," sê sy.

Devnarain het haar vanjaar by die nasionale akademie onder hande geneem.

"Ek hou van hoe sy jou uitdaag. Afrigters moedig jou gewoonlik net aan. Maar sy gee jou daardie skop op die agterstewe en sê: Luister, dis onaanvaarbaar. Daar is standaarde wat jy moet handhaaf."

Daardie "skop" het Dercksen in 'n nuwe rat gekry. By die T20-Wêreldbeker-toernooi het sy gespog met 'n kolfgemiddeld van 31.

Daaronder was 'n onoorwonne 20 van net 11 balle teen Engeland met twee viere en 'n ses.

Die Protea-kaptein, Laura Wolvaardt, praat met groot lof van Dercksen.

"Annerie het die ru-talent. Sy is 'n kragtige speler en dit is spesiaal om te sien hoe vinnig sy met kolf en bal opgang gemaak het in 'n kort tydjie. Sy gaan 'n groot rol vir ons speel in die toekoms," sê Wolvaardt.

SPELETJIES VANDAG

CTA