Die SA20-liga se eindstryd tussen die Pretoria Capitals en Sunrisers Eastern Cape, wat vir Saterdagmiddag beplan is by die Wanderers, is uitgestel weens 'n nat veld en onweer.
Die organiseerders het Saterdag aangekondig dat dié wedstryd nou Sondag sal plaasvind om 13:30 op die geskeduleerde reserwedag.
"Die veldvoorbereiding vir die wedstryd is in die gedrang gebring, met die kolfblad wat vir drie dae bedek was en meer as 200 mm reën het sedert Woensdag hierdie week geval," het die organiseerder in 'n kort verklaring gesê.
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het meer buie vir die res van Saterdag voorspel, met 'n beter vooruitsig wat vir Sondag verwag word.
"Ons het die wedstrydbeamptes, spanne, terreinopsigter, belanghebbendes en die SA Weerdiens betrek, en die uitstel van die wedstryd is die beste besluit om voorsiening te maak vir die moontlikheid van 'n volle wedstryd in droër toestande. Ons wil die spanne en toeskouers 'n onvergeetlike eindstryd gee," het Graeme Smith, die SA20-liga se kommissaris, bygevoeg.
Die hekke sal Sondagoggend om 10:30 oopmaak. Alle wedstrydkaartjies bly geldig vir die reserwedag.




















