Clyde vind Fortuin in Diamantstad

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Clyde Fortuin ná een van sy vier sesse. Foto: Gallo Images
Clyde Fortuin ná een van sy vier sesse. Foto: Gallo Images

Die Rocks se T20-krieketspan, met Clyde Fortuin aan die spits met sy eerste honderdtal, het die Warriors Maandag in Kimberley met 17 lopies in die provinsiale T20-reeks geklop.

Die Bolanders het met Fortuin se onoorwonne 104 van net 63 balle (11x4;4x6) 183/5 aangeteken en die Warriors toe tot 166/7 in die Groep D-wedstryd beperk.

Fortuin, paaltjiewagter van die Rocks, was reeds met die tweede boulbeurt van die wedstryd voor die paaltjies nadat Janneman Malan (5) uitgehardloop is.

Toe Fortuin sy kolf vir sy eerste 50 lopies van 32 balle gelig het, was die telling 86/3. Hy het net 56 balle vir sy honderdtal benodig.

Fortuin en Christiaan Jonker (45, 31b) se 118 om die vierde paaltjie het aan die einde 'n verskil gemaak.

Die naatbouler Ziyaad Abrahams (3/49) het die beste met die bal vir die Warriors gevaar. Nadat hy 22 in die 17de boulbeurt afgestaan het, kon die Rocks net twee lopies van die laaste beurt aanteken waarin hy twee paaltjies laat kantel het.

Die draaier Imran Manack (0/18), Ferisco Adams (2/23) met 'n gekneusde boulskouer en Abrahams (3/27) was daarna die wenspan se boulhelde.

Dit het weliswaar in 'n stadium in die Warriors se kolfbeurt gelyk of Fortuin se hoogste telling nog dalk nie genoeg gaan wees nie.

Matthew Breetzke. Foto: Getty Images
Matthew Breetzke. Foto: Getty Images

Matthew Breetzke (51, 37b) en Jon-Jon Smuts (47, 35b) was goed op dreef en dit het gelyk asof hulle vennootskap bepalend kan wees.

Die Warriors het 57/1 gehad in hul kragspel vergeleke met 51/2 wat Rocks vroeër gehad het.

Die Rocks het vier draaibalboulers aan die begin ingespan wat sewe van die eerste tien boulbeurte geboul het.

Een van hulle, Manack, het later met suinige boulwerk die druk laat oplaai.

Die Rocks moes tot die 15de boulbeurt wag om die tweede Warriors-paaltjie te kry.

Abrahams het die paaltjie van Smuts, wat op 12 van sy boulwerk oorleef het, gekry.

Nadat die vennootskap van 88 lopies verbreek is tussen Smuts en Breetzke, wat in die daaropvolgende beurt ook sy paaltjie verloor het, het die skaal ewewig gekry.

Lesiba Ngoepe (30, 16b) het die Warriors egter weer terug in die wedstryd gekolf voordat Adams met 'n seer skouer gewys het waarom hy een van die beste boulers is om aan die einde in te span.

Lesiba Ngoepe (30, 16b) het die Warriors egter weer terug in die wedstryd gekolf voordat Adams met 'n seer skouer gewys het waarom hy een van die beste boulers is om aan die einde in te span.

Adams het in die 16de beurt sleg geval toe hy 'n bal op die grens probeer vang het.

Die Iceman, soos hy bekend staan, was na 'n bietjie ys op sy regterskouer terug op sy stukke.

Hy was gereed om die 17de beurt te boul en het in die 19de twee paaltjies met agtereenvolgende balle laat kantel nadat Ngoepe aan die begin van die beurt 'n lewe gegun is.

Die Warriors het vier paaltjies in die laaste twee boulbeurte verloor nadat Abrahams hom ook op 'n driekuns in die laaste boulbeurt bevind het.

Hier is die volledige telkaart van die wedstryd.

SPELETJIES VANDAG

CTA