Maar dis dan AB de Villiers wat daar kolf.
Diegene wat die jong Dewald Brevis se kolfbeurt vir die Suid-Afrikaanse o.19-krieketspan teen Oostelikes Vrydag in Bloemfontein aanskou het, sou maklik dié gevolgtrekking gemaak het.
Die nommer 17 op Brevis (18) se rug is maar een van talle ooreenkomste wat hy met sy groot held toon, wat net soos hy ook op Affies was. Die postuur, maniërismes en aanvallende houespel is op 'n haar dieselfde.
Die belowende Brevis was à la De Villiers indrukwekkend met 46 lopies van 25 balle wat twee viere en vier sesse ingesluit het.
Maar die Suid-Afrikaanse o.19-span se 172/8 was nie genoeg om dié Groep C-wedstryd te wen nie.

Die aanvangskolwer Danie Rossouw (66*, 48b) en Grant Thomson (42, 27b) se 94 lopies om die tweede paaltjie het Oostelikes op koers gesit om 175/2 in 18 boulbeurte aan te teken. Jurie Snyman (49*, 22b) het met Thomson se vertrek behoorlik langsteel ingelê.
Vroeër het die res van die o.19-kolwers ondanks paaltjies wat bly kantel het, volhard met die dapper kolfwerk wat Brevis ten toon gestel het.
Brevis het met die eerste drie aflewerings na hom 'n vier en ses geslaan, iets wat hy die daaropvolgende beurt weer gedoen het.
Brevis was een van die draaibalbouler Tumelo Tlhokwe (3/18) se drie slagoffers.
Die linkerhandse naatbouler Khwezi Gumede (3/19) het ook drie paaltjies laat kantel, maar kon weens 'n besering nie 'n vierde beurt boul nie.





















