WP steeds onoorwonne, Dolphins ook in wedloop

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die Dolphins se Ottneil Baartman kry die paaltjie van die Dragons se Wesley Marshall.  Foto: Gallo Images
Die Dolphins se Ottneil Baartman kry die paaltjie van die Dragons se Wesley Marshall. Foto: Gallo Images

Die Dolphins se kans om die halfeindronde van die T20-utdaagreeks te haal het Vrydag 'n hupstoot gekry met hul oorwinning van sewe paaltjies oor die Dragons in Gqeberha

Die KwaZulu-Natallers is danksy dié oorwinning in die vierde plek op die puntelys met 12 punte.

Die Westelike Provinsie (22 punte) is eerste, gevolg deur die Titans (16) en die Rocks (13). Al die spanne het nog twee wedstryde oor.

Net soos in Vrydag se vroeë wedstryd, wat die WP op 'n drafstap teen die Knights gewen het, het die Dolphins se boulers nooit beheer van sake verloor nie en die Dragons tot 135/8 beperk.

Nicky van den Berg (52, 37 balle, 5x4;2x6) en Dwaine Pretorius (39) het 72 lopies om die derde paaltjie gevoeg, maar mens het regdeur die beurt gevoel dat die lopies nie vinnig genoeg aangeteken is nie.

Die naatbouler Ottniel Baartman het 'n wurggreep op die kolwers gehad en het 2/12 in sy vier boulbeurte geneem. Eathan Bosch (3/20) en Andile Phehlukwayo (1/18) het goeie ondersteuning gelewer.

Die Dolphins se aanvangskolwers Keegan Petersen (43) Grant Roelofsen (19) het 50 lopies om die eerste paaltjie aangeteken en het die grondslag gelê.

David Miller (35*) het toe die wa deur die drif vir die Dolphins getrek.

• Die WP is ná 'n maklike sege oor die Knights steeds onoorwonne in vyf wedstryde.

Die Kapenaars, wat slegs 127 lopies vir die oorwinning moes aanteken, het die wentotaal met nog 25 balle oor en ses paaltjies staande, behaal.

Dít was ook goed genoeg vir 'n bonuspunt.

Die jaagtog het swak begin, met die gevaarman Richard Levi (2) wat sy paaltjie in die tweede boulbeurt verloor het.

Jonathan Bird (43) en Tony de Zorzi (41) het toe 'n vennootskap van 71 om die tweede paaltjie gedeel en die res van die jaagtog 'n formaliteit gemaak.

Die een ligpunt vir die Knights was die twee skouspelagtige vangkanse wat CP Klijnhans op die middebaangrens geneem het om van Bird en De Zorzi ontslae te raak. Met albei het hy geduik en die bal wonderbaarlik met een hand opgeraap. In 'n toernooi waar die vangwerk tot dusver maar baie middelmatig was, het Klijnhans se pogings uitgestaan.

Die WP se boulers het vroeër uitstekend geboul om die Knights tot net 126/8 beperk.

Die Knights het vroeg al gesukkel om aan die gang te kom en het slegs 21/2 in die kragspel aangeteken.

Wayne Parnell (2/16) het slegs twee lopies in sy twee boulbeurte in die kragspel afgestaan.

Die Knights se kaptein, Pite van Biljon (40) en Patrick Kruger (34) het 'n vennootskap van 55 lopies om die vyfde paaltjie gevoeg om die Vrystaters se telling darem 'n bietjie aansien te gee.

Die bybreekbouler Junaid Dawood (3/28) is nou saam met Beuran Hendricks (1/26) die grootste paaltjievrate in die reeks met 11 paaltjies elk.

Altus Momberg

SPELETJIES VANDAG

CTA