Hanri Wondergem: Drie manne om dop te hou

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Max VerstappenFoto: Getty Images
Max VerstappenFoto: Getty Images

Naweke voel half leeg en vervelig noudat Formule Een se ren­jaers op luukse seilbote ontspan. Ek gun hulle (en hul spanne) die blaaskans, die hemele weet hulle werk basies in 'n drukkoker. Maar hoe skryf ek dan nou oor die F1-legendes as hulle nie naweek ná naweek vir opwinding in my sitkamer sorg nie?

"Jy neem die seisoen sover in oënskou," kom die raad van 'n mede-F1-verknogte.

"Maar moenie tegnies raak oor die nuwe reëls of die renmotors se betroubaarheid nie. Los dit vir die kenners. Fokus op die renjaers. Jy is mos 'n mense-mens."

Max VerstappenFoto: Getty Images
Max VerstappenFoto: Getty Images

So gesê, so gedaan.

Ek sal boeke kan skryf oor renjaers, maar ek het nie boekspasie nie. Ek het net hierdie rubriek. So, ek gaan skryf oor drie renjaers wie se hoogte- en laagtepunte in 2022 vir die meeste gesprekke op Sondagmiddae gesorg het - Max Verstappen, Charles Leclerc en George Russell.

Laasgenoemde omdat sommige mense (dalk selfs ek) met 'n redelike lang lip gekyk het hoe hy vir Valtteri Bottas by Mercedes vervang het. Die lang lip het egter vinnig in 'n glimlag verander met Russell wat dit kon vermag om in die topvyf van elke resies (wat hy voltooi het) te eindig. En dit in 'n Mercedes wat nie juis goed presteer nie.

By Williams was Russell gewoond daaraan om die agteros te wees by amper elke Grand Prix. Dit mag dalk wees waarom hy die Mercedes (stadiger as verlede jaar s'n, maar steeds vinniger as 'n Williams) so moeiteloos bestuur en sy spanmaat, Lewis Hamilton, menige male in sy stof agterlaat.

Ek het 'n sterk vermoede dat die huidige era van F1 oranje geverf gaan word en dis te danke aan die Belgies-Nederlandse Max Verstappen.

Wat hy sover in 2022 vermag, herinner sterk aan wat Michael Schumacher in 1995, Sebastian Vettel in 2011 en Lewis Hamilton in 2015 gedoen het.

Met 'n kampioenskaptitel agter sy naam gaan Verstappen van krag tot krag. Hy is 24 jaar oud en spog reeds met 28 Grand Prix-oorwinnings. Ek sukkel om te glo dat dit in enige ander renjaer se broek (of kar?) sit om vir Verstappen te uitoorlê. En wie weet - as Porsche en Red Bull in 2026 kragte saamsnoer, is dit dalk werklik 'n oranje era vir die sport.

Moet my nie verkeerd verstaan nie - Verstappen is nie die enigste uiters talentvolle man op die renbaan nie. Inteendeel. Ek vermoed Leclerc sou vir Verstappen 'n opdraande stryd besorg het as sy span (Ferrari) nie sy eie grootste vyand was wat betroubaarheid en strategie betref nie.

Leclerc het al menigmaal daarin geslaag om sy Ferrari te laat wegtrek op plekke wat die renmotor nie noodwendig verdien om te behaal nie. Hy oortref almal se verwagtinge - hoewel hy dalk nog 'n bietjie moet groei wat volwassenheid en temperament betref.

Leclerc gaan sonder twyfel nog 'n paar duur lesse leer, maar ek dink hy is 'n renjaer met 'n blink toekoms.

Met Mercedes wat lyk of hy al hoe beter presteer, Red Bull wat voort jaag en Ferrari wat hoop om sy saak te beredder, beloof die res van die 2022-seisoen om baie opwindend te wees.

Ongelukkig moet ons wag tot die laaste naweek van die maand - hopelik kom die renjaers uitgerus en gereed vir aksie terug na die renbane.

Ek gaan die drie manne met 'n valkoog dophou as hulle op 28 Augustus wegtrek vir die Grand Prix in België.

Wondergem is 'n redaksielid van Beeld en verknog aan F1.

SPELETJIES VANDAG

CTA