Silwer op die Rio-Spele in 2016, brons in Tokio in 2021 en nou goud in Parys.
Dit is die verhaal van die Nieu-Seelander Lydia Ko, wat gister op die Le Golf National-baan in Parys die Olimpiese goue medalje in die vrouetoernooi gewen het.
Ko het 71 houe in die laaste ronde aangeteken en op 278 houe (-10) afgesluit nadat sy 'n voëltjie op die 18de putjie behaal het.
Die 27-jarige Ko, wat op vierjarige ouderdom saam met haar Suid-Koreaanse ouers na Nieu-Seeland geëmigreer het, gaan nou met dié oorwinning in gholf se Heldesaal opgeneem word.
Die Duitser Esther Henseleit het die silwermedalje (280, -8) gewen met Lin Xiyu van China brons op 281 (-7).
Ashleigh Buhai was op 285 houe (-3). - Sportredaksie




















