
Wat 'n goue halfuur!
Die immergroen Ernst van Dyk en spiesgooier Reinhardt Hamman het albei Donderdag binne net 30 minute goue medaljes by die Paralimpiese Spele in Rio de Janeiro verower, om Span Suid-Afrika se totaal in 'n oogwink tot elf te voer.
Die 43-jarige Van Dyk het die eerste groot hoera van die dag gelewer toe hy op die Copacabana-strandfront danksy 'n naelrit na die eindstreep in die padwedren vir handfietse (H5-kategorie) geseëvier het. Elders in Rio de Janeiro was Hamman in daardie stadium besig met 'n stormloop na goud in die spiesgooi (F38-klas). Ná 'n skittervertoning waarin hy van krag tot krag gegaan het, het Hamman danksy 'n wenafstand van 50.96 meter eerste geëindig.
Van Dyk is in Rio de Janeiro by die sewende Paralimpiese Spele van sy loopbaan in aksie en het sedert 1992 reeds agt medaljes in 'n verskeidenheid sportsoorte gewen. Voor Donderdag was daar egter net een goue medalje in sy versameling - iets wat hy in Copacabana reggestel het deur sy groot nemesis Alessandro Zanardi (wat hom vier jaar gelede in die einste item om goud geklop het en net Woensdag Rio-goud in die tydtoets gewen het) na die kroon te steek.
Van Dyk, Zanardi en die Nederlander Jetse Plat het die wedren van 60 kilometer almal met 'n tyd van 1 uur, 37 minute en 49 sekondes voltooi, maar Van Dyk is as wenner gekroon omdat hy die voorwiel van sy handfiets net-net voor die ander twee oor die eindstreep gekry het.
Hy was emosioneel ná sy triomf en het vir 'n rukkie met 'n geboë kop in sy handfiets gesit om sy sukses te laat insink.

Elders in Rio het Hamman, wat serebraal gestremd is, sy spiesgooi-kompetisie uit die staanspoor oorheers.
Hy het die voortou reeds met sy eerste gooi van 49.32 geneem, dit met 'n vierde gooi van 49.87 oortref en seker gemaak van sy status as Paralimpiese kampioen toe hy die spies met sy laaste gooi verder as die 50m-merk gewerp het.
Sy afstand van 50.96 is 'n nuwe Suid-Afrikaanse en Afrika-rekord, en net 41 cm korter as die 12 jaar-oue wêreldrekord van Oleksandr Doroshenko.
Luis Fernando Lucumi Villegas van Colombia was tweede met 'n afstand van 49.19 m en Javad Hardani van Irak derde met 'n 48.46.
Span Suid-Afrika se totaal vir die Rio-Spele is nou elf (vyf goue medaljes, drie silwer en drie brons). Die land het opgeskuif tot 19de op die medaljetabel.
¦ In ander aksie het die 400m-atleet Charl du Toit en die swemmer Hendri Herbst deurgedring tot hul onderskeie eindrondes.
Du Toit, wat in die T37-kategorie vir serebraal gestremdes deelneem en Sondag goud in die 100m gewen het, was Donderdag baas in sy uitdun met 'n tyd van 55.28 sekondes. Dit was die vyfde vinnigste tyd van al die deelnemers.
Herbst het sy plek in Donderdagaand se eindronde van die 100m-vryslag (S11) verseker deur 'n tyd van 1:00.59 in sy uitdun op te stel. Herbst, wat blind is en LLB by Maties studeer, het derde in sy uitdun geëindig en die algeheel vyfde beste tyd aangeteken.
Louzanne Coetzee, 'n blinde langafstand-atleet het derde in die uitdun van die 1 500m (T11) geëindig, maar is kort daarna gediskwalifiseer omdat sy deur haar gids vorentoe gedruk is.














