Zanele Situ verower brons vir SA in Rio

Zanele Situ. Argieffoto: Getty Images
Zanele Situ. Argieffoto: Getty Images

Die staatmaker Zanele Situ het nog 'n medalje by haar Paralimpiese versameling gevoeg en aan Suid-Afrika sy agtste medalje by vanjaar se Spele besorg.

Situ se persoonlike beste afstand van 17.90 m was Dinsdag goed genoeg om die bronsmedalje in die T54-kategorie van die spiesgooi in Rio de Janeiro te verower.

Die 45-jarige Situ, wat die eer gehad het om die Suid-Afrikaanse vlag op die openingseremonie te dra, het in 2000 (Sydney) en 2004 (Athene) ook goud in die spiesgooi gewen en in 2000 silwer met die diskus losgegooi.

Flora Ugwunwa van Nigerië het met 'n wêreldrekord van 20.25 goud beklink, terwyl Hania Aidi van Tunisië tweede was met 'n afstand van 18.88.

Anruné Liebenberg spring weg in haar uitdun in die 400 m vir vroue (T47-kategorie). Foto: Wessel Oosthuizen/Gallo Images
Anruné Liebenberg spring weg in haar uitdun in die 400 m vir vroue (T47-kategorie). Foto: Wessel Oosthuizen/Gallo Images

Anruné Liebenberg se aanslag by die Paralimpiese Spele in Rio de Janeiro het vroeër Dinsdag goed begin, toe sy haar uitdun in die 400 m vir vroue (T47-kategorie) met 'n tyd van 1 minuut en 01.79 sekondes gewen het.

Liebenberg, wat in 2012 in Londen silwer in dié nommer gewen het, se tyd was die tweede vinnigste van al die deelnemers aan die uitdunne.

Die 17-jarige Liezel Gouws se tyd van 1:09.08 het aan haar die sewende plek besorg in die eindronde van die T37-kategorie van die 400 m vir vroue. Die Brit Georgina Hermitage het met 'n wêreldrekord van 1:00.53 goud verower.

Dyan Buis het net-net 'n plek op die podium misgeloop toe hy vierde in die eindronde van die 100 m (T38) geëindig het. Buis, wat vier jaar gelede in Londen silwer in die nommer gewen het, en die Brasiliaan Edson Pinheiro het albei 'n tyd van 11.26 sekondes opgestel, maar Pinheiro het die brons voor Buis se neus weggeraap. Jianwen Hu van China het in 'n wêreldrekordtyd van 10.74 sek. goud verower.

Andrea Dalle Ave in aksie in die eindronde van die verspring (T37). Foto: Wessel Oosthuizen/Gallo Images
Andrea Dalle Ave in aksie in die eindronde van die verspring (T37). Foto: Wessel Oosthuizen/Gallo Images

Andrea Dalle Ave se sprong van 5.68 m, sy beste van die seisoen, het aan hom 'n vyfde plek in die eindronde van die verspring (T37) besorg. Guangxy Shang van China was in 'n nuwe wêreldrekord van 6.77 baas.

In die swembad kon die Suid-Afrikaners nie welslae behaal nie. Achmat Hassiem het met 'n tyd 58.25 sek. vyfde in sy uitdun van die 100 m-vryslag (S10) vir mans geëindig en Shireen Sapiro was in 1:08.90 sewende in haar uitdun in dieselfde nommer vir vroue. In die 50 m-vryslag (S9) het Emily Gray in 33.25 sek. sewende in haar uitdun geëindig.

Die perderuiter Philippa Johnson het in die sewende plek in die individuele kampioenskap (graad III) geëindig, terwyl Ann Cathrin Lubbe van Noorweë in dié nommer geseëvier het.

SA deelnemers Woensdag

Hou die Suid-Afrikaners Woensdag op die Paralimpiese Spele dop.

Atletiek (SS 14)

17:27 : Uitdun - Ndodomzi Ntutu (100 m, T12)

17:50: Uitdun - Ntando Mahlangu 100 m, T42)

22:30: Eindronde - Zandile Nhlapo (gewigstoot, F34).

23:26: Eindronde - Anruné Liebenberg (400m, T47).

Boogskiet (nie uitgesaai)

15:15 Shaun Anderson - Mans- individuele kompetisie - (ope, 1/16)

* 20:00 (1/8)

* 22:00 (1/4)

* 23:00 (Eindronde)

Kanovaart (nie uitgesaai)

14:15 Uitdun - Graham Paull - Manskajak, enkel (200 m, KL1)

Padfietsry (nie uitgesaai)

13:00: Tydtoets - Craig Ridgard (C2)

14:00 Roxy Burns (C1-3)

14:17 Ernst van Dyk (H5)

15:30 Justine Asher (H2-3)

18:56 Dane Wilson (C5)

20:23 Goldy Fuchs (T1-2)

Rolstoeltennis (nie uitgesaai)

17:00: Lucas Si­thole - bronsmedalje-wedstryd teen David Wagner

Swem, gewigoptel en sittende vlugbal (SS 13)

Geen Suid-Afrikaanse deelnemers.

* Daaglikse regstreekse uitsendings van 14:30 op SS 13 en SS 14 op DStv. SABC 2 saai om 07:10 en 22:00 hoogtepunte uit.

SPELETJIES VANDAG

CTA