Die stresvolste aand van die 19-jarige Simoné Kruger se lewe het onder die stralende ligte van die Stade de France in Parys ontvou as 'n dag van glorie wat sy nou eerder as die beste aand van haar loopbaan sal onthou.
Kruger, 'n oud-leerling van die Hoërskool Garsfontein in Pretoria, het reeds twee wêreldkrone en 'n wêreldrekord in die diskusgooi se F38-klas agter haar naam gehad toe sy binne die sirkel aangetree het, met Paralimpiese glorie in Parys nommer een op haar wenslysie.
Dié droom is verwesenlik toe sy in die derde ronde met 'n gooi van 38,70 m losgetrek het, 'n afstand wat eindelik goed genoeg vir sowel die goue medalje as 'n nuwe Paralimpiese rekord in haar klas was.
"Alles het perfek uitgewerk. Selfs die weer het saamgespeel. Ons het vier dae voor dit gesien dat dit gaan reën, maar op die dag was daar nie 'n enkele wolk in die lug nie," het Kruger agterna aan Netwerk24 gesê.
China se Yingli Li se heel laaste poging van die aand het net 6 cm kort van Kruger se wenafstand geland, terwyl Colombia se Xiomara Saldarriaga Hernandez daarin kon slaag om die maatband tot 'n nuwe persoonlike beste van 38,36 m te laat rek. Net 34 cm het goud en brons van mekaar geskei.
"Ek was nog nie voorheen betrokke in 'n kompetisie waar die voorste drie deelnemers só naby aan mekaar was nie," sê sy verder.
"Dit was die stresvolste kompetisie waaraan ek al deelgeneem het."
Die spanning was tasbaar, maar Kruger het reeds vooraf vrede met die uitslag gemaak deur haar vertroue in 'n hoër mag te plaas.

"Ek het van meet af aan vrede gemaak dat wat ook al gebeur, word in die Here se hande geplaas, so ongeag die uitslag, Hy gaan alle eer kry."
Die kompetisie het begin met Li, 'n atleet in die F37-klas, wat 'n nuwe persoonlike beste van 38,46 m opgestel het om vroeg die voortou te neem. Kruger het met haar eerste probeerslag die maatband tot 37,69 m laat rek en die Mexikaan Rosa Carolina Castro se vorige F38 Paralimpiese rekord (33,73 m) oortref. Haar vreugde was van korte duur met Saldarriaga Hernandez wat haar poging oortref het met 'n gooi van 38,27 m.
Kruger se tweede gooi van 38,35 m het haar weer met die status as Paralimpiese rekordhouer beloon en tot in die tweede plek laat inskuif.
Haar derde sou egter die een wees wat in die rekordboeke opgeteken word. Die diskus het deur die lug gevlieg en op 38,70 m geland - net 12 cm kort van haar eie wêreldrekord. Sy was die nuwe voorloper.
"Dit was 'n interessante stryd. Ná my eerste gooi was ek derde, ná my tweede gooi was ek tweede en ná my derde was ek eerste. Dit was taai.
"Toe die atleet van China met daardie laaste poging losgetrek het, het ek groot geskrik. 'n Verskil van 6 cm is bitter min."
Sy sê verder dat die wete dat sy 'n besonderse ondersteuningsnetwerk het wat bankvas agter haar gestaan het, haar daardie ekstra oemf gegee het.
"Al die ondersteuning wat ek van die huis af gekry het, die toeskouers wat my in die stadion ondersteun het, my familie en vriende en almal anders wat in my hoekie was. Dit het my vreeslik aangespoor en vir die beste aand van my lewe gesorg."
• Mpumelelo Mhlongo het Saterdagaand in Parys 'n bronsmedalje in die 200 m (T64) op die Paralimpiese Spele losgehardloop.
Mhlongo het die wedloop in 22.62 sekondes voltooi en sodoende ook 'n nuwe wêreldrekord in die T44-afdeling opgestel. Mhlongo, wat in 'n moeiliker klas deelgeneem het, was vierde in die wedloop, maar die bronsmedalje is aan hom toegeken nadat die Duitser Felix Streng, wat tweede was, gediskwalifiseer is.
Die wedloop is deur Sherman Guity van Costa Rica in 21.32 gewen.
• Louzanne Coetzee, met behulp van haar gids Claus Kempen, het Sondag Suid-Afrika se aanslag afgesluit met 'n sewende plek in die marathon (T12).
Haar tyd was 3 ure, 25 minute en 53 sekondes. Dit was heelwat buite die 3:11:13 wat drie jaar gelede in Tokio 'n bronsmedalje aan haar besorg het.
Marokko se Fatima Ezzahra El Idrissi het goud gevat in 'n nuwe wêreldrekord nadat sy die wenstreep in 2:48:36 oorgesteek het.
• Suid-Afrika het die byeenkoms met ses medaljes afgesluit - twee goud en vier brons. Dit was een medalje minder as die totaal wat in 2021 in Tokio behaal is.











