Die Paralimpiese deelnemer Simoné Kruger (19) sê sy weet die Here het reeds 'n plan vir haar gehad voordat sy die goue medalje om haar nek gesit het.
Kruger het Woensdagaand op die O.R. Tambo-lughawe in Gauteng aangekom ná haar spogvertoning op vanjaar se Paralimpiese Spele in Parys.
Kruger het 'n goue medalje in die diskusgooi (F38) gewen nadat dit haar drie jaar gelede in Tokio ontwyk het.
Sy het daarin geslaag om in haar vertoning in Parys die wêreldrekord drie keer te oortref en het uiteindelik 'n wenafstand van 38,70 m gegooi.

Sy het Woensdag aan Netwerk24 gesê dit was 'n naelbyt-oomblik vir haar omdat haar naaste teenstander net 6 cm van haar afstand weg was.
Volgens Kruger kon sy haarself byna nie in die volgepakte Stade de France hoor dink nie.
"Ek het 100% gegee en myself daarby berus dat alles wat verder gebeur die Here se plan is," sê Kruger.
Kruger het voor die Spele hard gewerk, maar sy beskryf die jaar as "op en af".
Sy sê op die Wêreldkampioenskappe en die Paralimpiese Spele moes sy haar beste gegee het en dit was vir haar moeilik omdat sy gewoonlik net een keer per jaar haar toppunt bereik. Dié kompetisies was net drie maande uitmekaar.
LEES OOK | Goue Simoné voeg Paralimpiese kroon by wêreldtitel en wêreldrekord

Kruger, 'n oudleerling van die Hoërskool Garsfontein in Pretoria, se voormalige skoolmaats het haar Woensdagaand entoesiasties op die lughawe verwelkom. Haar ouers, Andries en Susan, was ook daar. Andries is ook Simoné se afrigter.
Leerlinge van die Hoërskool Garsfontein het by die uitgang saamgedrom en Kruger ingewag. Sy het elke leerling 'n drukkie gegee en hulle bedank vir hul ondersteuning.
Volgens Kruger het dit vir haar baie beteken om haar voormalige skoolmaats op die lughawe te sien.
"Die oomblik was beslis een van die spesiaalste oomblikke van my lewe. Dis net eenvoudig op 'n ander vlak."
Volgens haar het sy groot inspirasie geput uit die ondersteuning wat sy ontvang het.













