Ackers wil weer in SA afrig

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Johan Ackermann troos vir Jaco Kriel nadat die Leeus die Superrugby-eindstryd van 2017 teen die Crusaders verloor het. Foto: gallo
Johan Ackermann troos vir Jaco Kriel nadat die Leeus die Superrugby-eindstryd van 2017 teen die Crusaders verloor het. Foto: gallo

Johan Ackermann hunker sterk daarna om weer in Suid-Afrika af te rig.

"My kontrak maak eers oor 'n jaar klaar, maar ek het 'n opsie om aan die einde van die huidige seisoen te skuif as daar 'n ander geleentheid is wat ek sou verkies," sê Ackermann aan Rapport.

"En ja, dit sal lekker wees om weer in Suid-Afrika te wees, maar dis natuurlik as 'n geleentheid daar is, en ook alles wat daarmee saamgaan."

Die 53-jarige voormalige Springbok-slot rig die Japanse klubspan Urayasu D-Rocks sedert verlede jaar af. Die klub speel in Japan se Afdeling 2. Die D-Rocks het tot dusver in die 2023-'24-seisoen nege uit tien ligawedstryde gewen. Die span is met 42 punte boaan die puntelys. Die Japanse seisoen eindig in Mei.

Ackermann het laas in 2017 in Suid-Afrika afgerig. Hy het destyds sy merk as afrigter by die Leeus gemaak. Nadat die Gautengers in 2013 uit Superrugby gerelegeer is, het die Leeus onder Ackermann se afrigting teruggeveg om in 2016 en 2017 se Superrugby-eindstryde te speel.

Dit was so hittete of Ackermann het toe die Bok-afrigter geword vanweë die Leeus se sukses, en die Bokke wat in 2016 en 2017 verskeie spoedbulte getref het.

Eindelik is Ackermann in 2017 weg na die Engelse klubspan Gloucester. Hy het dié klub tot in 2020 afgerig, waarna hy na die Japanse klubspan Red Hurricanes is. Hy het verlede jaar oorgeskuif na die D-Rocks.

Al het van Ackermann se verteenwoordigers onlangs die water getoets by van die Suid-Afrikaanse spanne, is die realiteit dat daar min poste beskikbaar is by plaaslike spanne wat in Europese kompetisies speel.

Dít is ook 'n tameletjie vir ander talentvolle Suid-Afrikaanse afrigters, soos Franco Smith (Glasgow Warriors), Johann van Graan (Bath) en Heyneke Meyer (Houston Sabercats), en 'n groot rede waarom hulle steeds in die buiteland afrig. Boonop is daar plaaslike afrigters soos die Stormers se Rito Hlungwani en Griekwas se Pieter Bergh wat ook hul oë op 'n toppos sal hê.

Rassie Erasmus is tot 2027 as die Bokke se hoofafrigter aangestel, wat die Bok-deur tot dan vir Ackermann toe hou. Erasmus was tot dusver in 26 toetse die Bok-hoofafrigter. Hy behoort teen 2027 Jake White se rekord van 54 toetse as die Bok-afrigter te verbeter.

SPELETJIES VANDAG

CTA