Kaptein vol vertroue dat Engeland All Blacks kan troef

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Jamie George, haker en kaptein van Engeland.  Foto: Getty Images
Jamie George, haker en kaptein van Engeland. Foto: Getty Images

Jamie George, kaptein van Engeland, sê sy span geniet al die momentum in die aanloop tot die reeks in Nieu-Seeland en hy is vol vertroue dat die besoekers Saterdag 'n wendroogte van 21 jaar in die eerste toets in Dunedin sal verbreek.

George sê Engeland het die nodige samehorigheid om die All Blacks te klop, iets wat hulle laas in 2003 op Nieu-Seelandse bodem kon bereik, ná die goeie vordering wat die span in vanjaar se Sesnasies-reeks getoon het.

Die Engelse, wat 'n meer omvattende spelpatroon as vroeër in die reeks toegepas het, het die uiteindelike kampioen, Ierland, 'n skoknederlaag toegedien voordat hulle in Maart met twee punte teen Frankryk in Lyon verloor het en uiteindelik derde geëindig het.

George sê hy het verdere verbetering gesien in verlede week se oorwinning van 52-17 oor Japan in Tokio en, terwyl die All Blacks 'n veel groter bedreiging inhou, glo hy dat Engeland se voorbereiding nie beter kon gewees het nie.

"Ongeag teen wie ons nou speel, ek sien geleenthede oral in hierdie span," sê hy.

"Ons wou die momentum van die Sesnasies-reeks gebruik om 'n identiteit te skep. Vandeesweek voel dit asof ons dit vermag het. Ons is fiks, ons is gereed om hard mee te ding en ons wil die All Blacks aandurf," sê George.

Die veteraan-Saracens-haker is een van net vier lede van 'n taamlik jong span wat voorheen in Nieu-Seeland gespeel het, maar sê dit is belangrik dat sy spanmaats nie gestrem voel nie. Hy sê spelers soos die 21-jarige vleuel Immanuel Feyi-Waboso, wie se vernietigende lopies vir die Exeter Chiefs 'n kenmerk van die Engelse Premierliga-seisoen was, kan 'n groot impak in die reeks van twee toetse maak.

"Hy is vir 'n rede gekies. Hy beskik oor absolute superkragte in sy liggaam wat ek graag sou wou hê en nooit sal hê nie," sê George.

Die opwindende vleuel Immanuel Feyi-Waboso. Foto: Getty Images
Die opwindende vleuel Immanuel Feyi-Waboso. Foto: Getty Images

"Dus, gaan op die veld en doen jou ding. Moenie bang wees om voluit te speel nie. Want ons wil seker maak ons werp absoluut alles in die stryd."

George sê hy het baie uit die Britse en Ierse Leeus-toer in Nieu-Seeland in 2017 geleer, waar hy in al drie toetse in die gedeelde reeks begin het. Die noodsaaklikheid daarvan om die inisiatief teen die All Blacks te neem is ook in Engeland se oorwinning met 19-7 in die halfeindronde van die Wêreldbeker-toernooi in 2019 beklemtoon.

"Dit was een van die beste wedstryde waarin ek ooit gespeel het omdat ons almal vir die geleentheid opgestaan het," sê George.

"Soms, wanneer jy in sulke wedstryde of geleenthede is, stel dit jou in staat om na 'n plek te gaan waarheen jy waarskynlik nooit gedink het jy in staat is om heen te gaan nie. Ons gaan na sommige donker plekke moet gaan om Saterdag in Dunedin 'n oorwinning te behaal." - AFP

SPELETJIES VANDAG

CTA