
Nicolaas Janse van Rensburg se pa, Christo, het Saterdagaand die afstandbeheer gevat en die aankondiging van die Springbok-groep teruggespeel om seker te maak sy seun se naam verskyn wel onder die voorspelers.
"Ons is in die wolke. Dit was fantastiese nuus.
"Hy speel al rugby vandat hy vier was. Eers hoop 'n ou hy haal die skool se o.9-span en dan is dit die volgende ouderdomsgroep.
"Dat hy nou in 'n Bok-groep is, is byna onwerklik," sê Christo.
Dié oud-Affie is een van agt nuwelinge in die groep vir die toetse teen Georgië en die Britse en Ierse Leeus.
"Nicolaas wie?" sou sommige ondersteuners Saterdagaand tereg kon vra.
Hy het in 2016 'n paar wedstryde vir die Bulle in die Superreeks gespeel, maar is later daardie jaar na Frankryk om vir Montpellier te gaan speel nog voordat hy in Suid-Afrikaanse rugby kon opgang maak.
RG Snyman, Jason Jenkins en Marvin Orie was voor hom in die slot-rangorde by Loftus Versfeld en Lood de Jager was boonop op pad van die Cheetahs af.
Grant Hattingh het ook daardie seisoen nog vir die Bulle gespeel.
"Dit was 'n groot en moeilike besluit, want ek is 'n gróót Blou Bul en Nicolaas ook.
"Hy het min speelkans gekry hier en ons het destyds besluit hy moet 'n nuwe geleentheid aanpak."
Christo sê die grootste trekpleister was Montpellier se afrigter, Jake White.
"Ek het vir Nicolaas gesê Jake sal goed wees vir sy loopbaan en dit het gehelp dat daar so baie ander Suid-Afrikaners by die klub was.
"Jake het my gebel en gesê hy sal my seuntjie mooi oppas en hy het ook. Ek het groot waardering vir die rol wat Jake in Nicolaas se begindae daar gespeel het.
"My seun is as 'n laaitie hier weg en het in Frankryk 'n volwasse man geword."
Tog het hy 'n paar maande gelede oorweeg om huiswaarts te keer nadat die einste White hom gekontak het met die aanbod om weer 'n Bul te word.
"Nicolaas het nooit sy droom om vir die Bokke te speel prysgegee nie en het gevoel hy is uit die oog in Frankryk.
"Hy is 'n week of twee later in kennis gestel dat hy vir die Springbok-groep oorweeg word."
Janse van Rensburg het ná White se onlangse navraag by Montpellier gevra of hy dalk vroeër van sy kontrak vrygestel kan word.
Mohed Altrad, Montpellier se eienaar, het laat weet daar is geen kans nie.
Jy laat nie een van jou waardevolste spelers net so gaan nie, was glo sy boodskap.
Janse van Rensburg het vanjaar in die Franse Top-14 72 keer lynstaanbesit verseker, die derde meeste in die kompetisie.
Sy spanmaat Yacouba Camara (81) en Guillaume Ducat (75) van Bayonne is voor hom op die lys, maar Camara het drie wedstryde meer gespeel.
Janse van Rensburg het ook ses keer die teenstanders se besit in die lynstane gegaps.
Hy is nog in Frankryk en sal hom later dié week by die Springbokke aansluit.
• Nicolaas is vernoem na sy oupa, wyle Nico van Rensburg, die bekroonde konsertinaspeler.



















