Dazel help Blitsbok-skoppers beter korrel

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Ricardo Duarttee skop die bal verlede maand in die Kaapstad-sewestoernooi in die DHL-stadion.  Foto: Gallo Images
Ricardo Duarttee skop die bal verlede maand in die Kaapstad-sewestoernooi in die DHL-stadion. Foto: Gallo Images

Die Blitsbokke se beter korrelwerk pale toe in verlede maand se Kaapstad-sewestoernooi kan toegeskryf word aan die werk wat Renfred Dazel met die skoppers in die span ingesit het.

In die Dubai-toernooi, die eerste van die huidige seisoen van die SVNS-reeks, het die Blitsbokke 16 drieë gedruk, waarvan hulle slegs vyf kon verdoel (31%-slaagsyfer). 'n Week later in die Moederstad het dit beter gegaan met die nasionale span, wat 10 van sy 18 drieë (55%) verdoel het.

Dazel is die hoofafrigter van die Suid-Afrikaanse vroue-sewesspan, maar het in die aanloop tot die Kaapstad-toernooi die Blitsbokke bygestaan.

"Ek help graag wanneer ons tyd het en nou met die herstrukturering van Saru (Suid-Afrikaanse Rugbyunie) is ek baie meer betrokke.

Renfred Dazel, hoofafrigter van die Suid-Afrikaanse vroue-sewesspan. Foto: Gallo Images
Renfred Dazel, hoofafrigter van die Suid-Afrikaanse vroue-sewesspan. Foto: Gallo Images

"Ek en Philip (Snyman, afrigter van die Blitsbokke) het oor die jare heen, van ons speeldae af, 'n goeie werksverhouding opgebou. Toe Sandile (Ngcobo) nog die afrigter was, het ek hulle ook gehelp met skopsessies.

"Ons stel twee programme vir 'n week op (vir mans en vroue), maar dit word só gedoen dat daar tyd beskikbaar is om mekaar te help. Philip sal dieselfde vir ons doen deur ons byvoorbeeld met lynstane en skrums te help."

Dazel (43) het die Blitsbokke in sy speeldae in 32 Wêreldreeks-toernooie verteenwoordig, waarin hy 456 punte (47 drieë, 109 doelskoppe en een strafdoel) aangeteken het.

By die Blitsbokke tel Selvyn Davids, Ricardo Duarttee en Tristan Leyds onder die spelers wat pale toe skop.

Tristan Leyds is een van die Blitsbokke wat die skopwerk in die span kan behartig. Foto: Gallo Images
Tristan Leyds is een van die Blitsbokke wat die skopwerk in die span kan behartig. Foto: Gallo Images

"Die meeste van die spelers is nie regtig skoppers as hulle sewesrugby begin speel nie. Baie ouens wat hier aankom, het wel 'n talent daarvoor, dan help 'n mens hulle om bestendig te wees," sê Dazel.

Dazel gaan die Blitsbokke vergesel na die Perth-toernooi, wat van 24 tot 26 Januarie beslis word. Hoewel die Suid-Afrikaanse vroue-sewesspan sy plek in die topliga kwyt is vir die huidige seisoen, wag 'n besige paar maande op Dazel by die vrouespan.

Daar is drie toernooie in die Uitdaagbeker-reeks (die tweede liga) waaraan Suid-Afrika se vrouespan gaan deelneem. Die eerste twee toernooie vind op agtereenvolgende naweke aan die begin van Maart in Kaapstad plaas.

Indien die Suid-Afrikaners onder die voorste vier spanne op die puntelys eindig ná die derde toernooi, sal hulle aan die jaareindtoernooi van die SVNS-reeks, wat op 3 en 4 Mei in Los Angeles beslis word, kan deelneem. Daar kan die span verseker dat hy vir die 2025-'26-seisoen na die topliga terugkeer.

"Ek is baie positief dat ons sal terugkeer (na die topliga). Ons is besig om uit te kyk vir nuwe talentvolle spelers en ons program is aan die gang," sê Dazel.

Benewens die besige sewesprogram, word die Wêreldbeker-toernooi vir vroue in 15's ook later vanjaar beslis. Spelers soos Nadine Roos, Ayanda Malinga en Zintle Mpupha verteenwoordig Suid-Afrika in albei formate van die spel.

Nadine Roos verlede jaar in aksie vir die Springbok-vrouespan in Kaapstad. Foto: Gallo Images
Nadine Roos verlede jaar in aksie vir die Springbok-vrouespan in Kaapstad. Foto: Gallo Images

"Daar is van ons spelers wat in die provinsiale reeks (in 15's) gaan speel, maar hulle sal beskikbaar wees vir die eerste twee toernooie," sê Dazel.

"Nadine Roos is die enigste speler wat nie in die provinsiale reeks gaan speel nie, want sy voel sewes is die beste manier om haar reg te kry vir die Wêreldbeker."

- marnus.kok@24.com

SPELETJIES VANDAG

CTA