Die Ikeys sal 'n opvolger vir hul suksesvolle afrigter Tom Dawson-Squibb moet soek.

Die Varsitybeker-eindstryd teen die Shimlas, wat sy span enkele weke gelede naelskraap verloor het, was sy swanesang by die Kaapse rugbyspan.
Die breier sou aanvanklik reeds verlede jaar klaargemaak het, maar het toe ingestem om vir oulaas nog in 2024 se Varsitybeker aan die stuur te staan.
Dawson-Squibb, wat vroeër in sy loopbaan die Ikey Tigers se prestasie-afrigter was, het in September 2019 die leisels as hoofafrigter van die Universiteit van Kaapstad oorgeneem.
Onder sy leiding het die Ikeys in drie Varsitybeker-eindstryde (2021, 2023 en 2024) en 'n -halfeindstryd (2022) gespeel. In 2020 is die reeks weens die Covid-19-pandemie nie voltooi nie.
Dawson-Squibb doen ook heelwat werk as prestasie-afrigter in die sakewêreld.
Hy sal binnekort 'n tweede keer die Suid-Afrikaanse krieketspan by 'n Wêreldbeker-toernooi bystaan.
Hy is einde verlede jaar die eerste keer deur die Proteas by die Wêreldbeker in Indië as prestasie-afrigter ingespan. Hy sal weer so maak wanneer Suid-Afrika se T20-krieketspan volgende maand in die Wes-Indiese Eilande en Amerika aan 'n Wêreldbeker deelneem.
Daar kom 'n tyd wanneer jy jouself moet afvra wat is volgende.
Dawson-Squibb se Ikeys-kontrak het einde April klaargemaak. Sy laaste wedstryd was dus die Varsitybeker-eindstryd in Bloemfontein, toe sy span wéér in die doodsnikke die knie moes buig.
Die Shimlas het die wedstryd op dramatiese wyse met 'n strafdoel deur hul losskakel Ethan Wentzel teen die einde 45-42 gewen.
Volgens Dawson-Squibb is dit nou die regte tyd om klaar te maak.
"Daar kom 'n tyd wanneer jy jouself moet afvra wat is volgende," sê hy aan Rapport.
"Daar is 'n klomp ouens wat die laaste paar jaar hier deur die rugbyprogram gekom het. Hulle is regtig gelukkig, gemotiveerd in hul rugby, het wonderlike lewensvaardighede geleer en het baie mense op hul pad leer ken.
"Dit is nou iemand anders se beurt om dit (die afrigting) te doen."
Dawson-Squibb se hulpafrigters in 2024 se Varsitybeker-reeks was die voormalige Skotse toetsspeler Josh Strauss en die oud-Springbok Robbie Fleck, met Craig Childs wat ook 'n Ikeys-konsultant was.
Childs help die Westelike Provinsie se junior spanne onder meer met hul verdediging.
Die oud-Stormer Nic Groom, wat deesdae Wynberg Boys' High School se direkteur van rugby is, was ook verlede jaar by die Ikeys-afrigtingspan betrokke.








