NWU-Arende: ‘Verdediging wen eindstryde’

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

By Jean Tiedt, verdedigingsafrigter van die NWU-Arende, bestaan daar geen twyfel nie dat verdediging die sleutel hou tot sukses in eindstryde.

Die NWU-Arende en die Ikeys pak mekaar Maandagaand in die eindstryd van die Varsitybeker-reeks in Potchefstroom.

Jean Tiedt (links) vroeër vanjaar in Potchefstroom. In die middel is Chaka Willemse, voorspeler-afrigter van die NWU-Arende, en regs is die span se fisioterapeut, Eben Verster.  Foto: Varsitybeker | Barco Greeff
Jean Tiedt (links) vroeër vanjaar in Potchefstroom. In die middel is Chaka Willemse, voorspeler-afrigter van die NWU-Arende, en regs is die span se fisioterapeut, Eben Verster. Foto: Varsitybeker | Barco Greeff

In die afgelope Maandag se halfeindstryd tussen die NWU-Arende en die Maties het die Noordwesters veral met hul keerwerk beïndruk. Daar was omtrent geen deurkomkans vir die Stellenbossers nie, wat net een drie kon druk.

"Ek voel eindstryde word altyd gewen deur die span wat die beste verdedig," sê Tiedt (40).

Ons weet dit gaan nie speletjies wees nie.

"Die Ikeys is 'n baie moeilike span, hulle stel baie vrae aan verdedigers. Hulle het 'n goeie agttal, hulle dra die bal sterk, hulle is fisiek en hul drukaangeë is goed.

"Hul nr. 10 (David Hayes) is 'n generaal, wat oor verskeie opsies beskik en die lyn regtig goed aanval. Maandag gaan vir ons 'n groot uitdaging wees. Ons weet dit gaan nie speletjies wees nie."

Die NWU-Arende het vanjaar die minste drieë, 19, in die studentereeks afgestaan. Die span wat die tweede minste drieë afgestaan het, is die Ikeys met 29.

Vir my gaan dit alles oor spoed en fisiekheid.

Tiedt, wat al sedert 2014 deel van die NWU-Arende se afrigtingspan is, is Donderdag gepols oor sy filosofie wanneer dit by verdediging kom.

"Vir my gaan dit alles oor spoed en fisiekheid. Alles wat ons doen gaan daaroor hoe vinnig ons van die af lyn is, hoe fisiek ons in die kontak en in die ‘botsing'-aspekte van die spel is. Ook by die afbreekpunte en by die verdediging van rolmaalbewegings," sê Tiedt.

"Ons wil vinniger en harder werk as die aanval (teenstanders s'n). Ons wil meer fisiek wees as wat die aanval is. Daar is nog ander dinge tussenin, maar dit is die twee aspekte waaraan ons die meeste aandag gee."

Volgens statistieke van die Varsitybeker-reeks het die NWU-Arende in agt wedstryde vanjaar 1 124 duikslae uitgevoer en 266 verbrou vir 'n suksessyfer van 81%. Daarteenoor het die Ikeys 295 van 1 956 verbrou vir 'n suksessyfer van 85% - die hoogste van al die spanne.

Tiedt het in 2008, die eerste seisoen van die Varsitybeker-reeks, vir die Pukke (soos die NWU-Arende toe bekend gestaan het) gespeel. Hy het in sy speeldae ook vir die Luiperds uitgedraf.

Tiedt was in 2014, 2015 en 2018 lid van die afrigtingspan toe die NWU in die eindstryd vasgeval het. In 2016 - toe Jonathan Mokuena die hoofafrigter was - het die NWU-Arende die studentereeks gewen deur die Maties in die eindstryd in Stellenbosch te klop.

Vanjaar is die eerste jaar dat Burger van der Westhuizen die NWU-Arende se hoofafrigter is.

SPELETJIES VANDAG

CTA