Die Shimlas het Maandagaand koning gekraai in die Bloemfonteinse derby van die Varsitybeker-reeks deur met die Ixias af te reken.
Die wenspan, met Jandré Nel (skrumskakel) en Zane Bester (senter) aan die spits, het die Ixias in die eerste helfte deurmekaar gehardloop om met 59-40 te wen op die kampus van die Sentrale Universiteit vir Tegnologie.
Met die rustyd was die telling 43-7 in die Shimlas se guns en hoewel die Ixias in die tweede helfte verwoed teruggeveg het, was dit steeds nie genoeg vir 'n sege nie.
Dit is die derde agtereenvolgende jaar dat die Shimlas koning kraai het in die stryd van die Rosestad.
Die Shimlas het vroeg punte aangeteken toe Nel gaan druk het. Bester het kort daarna sy eerste drie gaan druk - ook 'n sewepundrie. Albei is verdoel wat die telling 18-0 gemaak het.
Toe verloor die Ixias se binnesenter, Liam Prinsloo, by wyse van spreuke kop toe hy 'n ontoelaatbare duikslag op 'n speler van die Shimlas uitgevoer het. Die uiteinde was dat hy met 'n geel kaart afgestuur is en 'n strafdrie is aan die besoekers toegeken.
In die tweede helfte het die Ixias heelwat meer balbesit en gebiedsvoordeel gehad en vyf goeie drieë gedruk. Hulle was in die laaste 40 minute die beslis beter span op die veld. Twee Shimlas is in die tweede helfte met geel kaarte afgestuur.
PUNTEMAKERS:
Shimlas 59 (43): Drieë: Jandré Nel (sewepuntdrie), Zane Bester (sewepuntdrie), strafdrie, Bester (sewepuntdrie), Siviwe Zondani (sewepuntdrie), Ethan Wentzel, Neels Volschenk (sewepuntdrie). Doelskoppe: Wentzel (6).
Ixias 40 (7): Drieë: Sisipho Nofuya, Janco Cloete, Adielson Gouveia (sewepuntdrie), Juan Smith, Asekho Marubelela, Tiaan Naudé (sewepuntdrie). Doelskoppe: Smith (3).
NOG UITSLAE:
UWK 14, Maties 63
Wits 33, Ikeys 33
• Die wedstryd tussen UJ en die NWU-Arende in Johannesburg is in die eerste helfte afgelas weens swaar weer. Die wedstryd sal Dinsdag om 10:00 beslis word.





















