Vuisvoos Stormers kry groot slae

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Sam Simmonds duik Saterdagaand oor vir ’n drie in die Exeter Chiefs se gemaklike oorwinning van 42-17 oor die Stormers in hul Europese Kampioenebeker-kwarteindstryd op Sandypark, Exeter. Foto: Getty Images
Sam Simmonds duik Saterdagaand oor vir ’n drie in die Exeter Chiefs se gemaklike oorwinning van 42-17 oor die Stormers in hul Europese Kampioenebeker-kwarteindstryd op Sandypark, Exeter. Foto: Getty Images

Wie weet wat kon gebeur het as die strukture in plek was vir Suid-Afrikaanse spanne om in een vlug en 'n busrit te kom waar hulle moet wees om sinvol te kan voorberei vir 'n kwarteindstryd.

Hoe dit ook al sy, die Stormers se veldtog in die Europese Kampioenebeker-reeks het Saterdagaand gesneuwel met 'n slegte nederlaag van 17-42 teen die Exeter Chiefs op Sandypark, Exeter.

Die Kapenaars het hul swakste eerste helfte van hul seisoen gespeel en was met rustyd met 0-21 agter. Statistiek het die neerdrukkende verhaal vertel: Hulle moes 93 duikslae maak waarvan 16 verbrou is. Exeter het 66% van die balbesit gehad en gebiedsvoordeel was 76% in die Engelse se guns. Boonop het die Chiefs sewe keer omkeerbesit gewen.

Die Stormers was gelukkig om met die omdraaislag 0 op die telbord te hê en hulle het gelyk soos 'n span wat weens hul reisreëlings eers twee dae voor die wedstryd kon begin oefen.

Terselfdertyd is dit nie 'n geval van die Stormers wat bloot hul eie graf gegrawe het nie. Die Chiefs was meestal puik en het duidelik hul huiswerk gedoen oor hoe om die Stormers se opskietverdediging te troef.

Om Exeter in die middelveld hok te slaan, het die Stormers te veel verdedigers bal toe gestuur, wat ruimte in die wye kanale gelaat het. Joe Simmonds, Exeter se losskakel, het dit raakgesien en vir Tom Wyatt met 'n dwarsskop gevind om hul eerste drie af te rond.

Dit was vroeg ook duidelik dat die Stormers hul bobaasbaljagter, Deon Fourie, baie sou mis. Exeter het die bal deur fases gedra sonder dat hul besit noemenswaardig vertraag is. Dit was geen verrassing toe Junior Pokomela, die man wat Fourie in die beginspan vervang het, rustyd vervang is nie.

Die Stormers was waarskynlik weens die reisreëlings fisiek nie hulself nie en dit het in hul verdediging gemanifesteer, met hul lakwerk wat buite karakter swak was. Hul konsentrasie het ook veel te wens oorgelaat.

Onder gewone omstandighede sal die Stormers nie drieë soos Exeter se ander twee in die eerste helfte afstaan nie. Jack Nowell, Exeter se regtervleuel, het sonder ongerief deur die middel gehardloop van agter 'n losskrum in die Stormers se kwartgebied. Op sy beurt het Olly Woodburn afgerond ná 'n eenvoudige binne-aangee deur Joe Simmonds. Of die ingooi oor die lynstaan na Simmonds reguit was, sou 'n gesprekspunt gewees het as daar minder tussen die spanne te kies was op die aand.

Die Stormers se puik gees het wel in die tweede helfte sterk deurgekom. Hulle het baie goed begin met 'n teenaanval deur Willemse, maar die wind is uit hul seile gehaal met 'n strafskop teen Steven Kitshoff by 'n losskrum.

'n Paar minute later het die Stormers weer onder hul pale gestaan toe Sam Simmonds deur 'n groot gaping tussen Frans Malherbe en Marvin Orie gehardloop het om die wedstryd vir alle praktiese doeleindes buite die Stormers se bereik te plaas.

Die Stormers het wel in die wedstryd gekom toe spel begin lostorring het. Willemse en Suleiman Hartzenberg het albei afgerond ná puik stukkies individuele spel deur Seabelo Senatla en Manie Libbok.

Dobson sal met reg gegrief wees dat 'n drie nie toegeken is ná Ruhan Nel se puik lopie doellyn toe nie. Kitshoff is vir obstruksie gestraf toe dit gelyk het asof hy niks meer as sy hardlooplyn gehou het nie. Dit het omtrent die Stormers se aand opgesom.

Gee hulle egter krediet. Selfs nadat die koeël deur die kerk was, het hulle aanhou baklei. Dit het egter beteken dat hulle hoë-risiko rugby moes speel en Tom Cairns het aan die einde 'n lang en los aangee onderskep om die telbord sleg te laat lyk vir die Stormers.

  • • Tom Wyatt, Jack Nowell, Olly Woodburn, Sam Simmonds, Jack Yeandle, Tom Cairns. Doelskoppe: Joe Simmonds (6).
  • Damian Willemse, Suleiman Hartzenburg, Marvin Orie. Doelskop: Manie Libbok.

SPELETJIES VANDAG

CTA