Die moontlikheid bestaan dat die veelsydige agterspeler Zander du Plessis sy loopbaan by die Cheetahs kan voorsit – ’n terugkeer na die provinsie waar alles vir hom as skolespeler begin het.
Die 25-jarige Du Plessis sal Vrydag in Bloemfontein mediese toetse ondergaan. ’n Amptelike aankondiging kan daarna gedoen word.
Du Plessis het aan Grey Kollege gematrikuleer, waarna hy Tukkies toe is.
Hy het op heelagter by Tukkies in die Varsitybeker-reeks uitgeblink. Hy het in 2021 in dié studentereeks Demetri Catrakilis van die Ikeys se rekord vir die meeste punte in ’n seisoen, 136, oortref.
Du Plessis het in dieselfde seisoen sy loopbaan as senior by Griekwas begin. Hy is toe aan die Leeus uitgeleen, waarna hy in 2023 deur die Johannesburgse span gekontrakteer is.
Du Plessis het in verlede jaar se Curriebeker-reeks laas vir die Leeus gespeel en is voor vanjaar se Curriebeker-reeks daar weg.
Hy het intussen met ’n paar spanne gepraat en kan terugkeer na Bloemfontein, waar hy sy rugby geleer het. Ross Braude, wat nou vir die Haaie skrumskakel speel, was destyds sy skakelmaat by Grey.
Du Plessis kan ook senter speel, maar verkies dit om op losskakel uit te draf.
Die Cheetahs het weens beserings vanjaar reeds verskeie losskakels ingespan.
George Lourens is in ’n oefenwedstryd voor die Curriebeker-reeks beseer. Hy kon toe weens sy armbesering geen wedstryde in die reeks speel nie.
Die Cheetahs het vier losskakels – Ethan Wentzel, Tiaan Swanepoel, Clayton Blommetjies en Franco Smith – in die eerste vier wedstryde van die Curriebeker-reeks ingespan. Wentzel, Swanepoel en Smith het ook in die loop van die reeks weens beserings op die kantlyn gesit.
3878

















