Suid-Afrikaanse sokkerbase (en ondersteuners) sal met groot belangstelling dophou hoe dinge in Oos-Afrika gaan ontvou, waar die Nasiesbeker-toernooi tans beslis word.
En die aandag sal veral op Kenia se span wees, wat deur die Kapenaars Benni McCarthy (hoofafrigter) en Moeneeb Josephs (doelwagter-afrigter) gebrei word.
Bafana Bafana is ook in aksie in dié toernooi, wat in Kenia, Tanzanië en Uganda gespeel word, maar bitter min van die spelers wat tans daar is, sal Hugo Broos se senior SA span haal.
McCarthy se span is onoorwonne in Groep A en het verras deur Marokko, 'n veelmalige kampioen, in 'n groepwedstryd met 1-0 te klop. Kenia speel Sondag sy laaste groepwedstryd teen die sukkelende Zambië en behoort sy plek in die uitklopronde te bespreek.
Dit is die eerste keer dat Kenia aan dié toernooi deelneem, en die span beleef van sy beste jare op die sokkerveld.

McCarthy het gesê die Harambee Stars (soos Kenia se sokkerspan bekend staan) het tot dusver die gees van Keniaanse atlete in dié toernooi getoon.
"Ons is 'n span wat nog besig is om te bou, maar die spelers het tot dusver ver bo hulself gespeel. Daar is baie talent hier en die spelers werp alles in die stryd - dieselfde soos dié land se atlete, wat jaar ná jaar op groot atletiekbyeenkomste uitblink.
McCarthy het sy afrigtersloopbaan by Cape Town City in Suid-Afrika se Premierliga begin, maar het ná 'n suksesvolle eerste jaar die trekpas gekry nadat die Citizens nie op hul vorige sukses kon voortbou nie.
Daarna het Bafana Bafana se suksesvolste doelskieter hom by AmaZulu as hoofbreier aangesluit, waar hy met Josephs, toe reeds die doelwagter-afrigter, begin saamwerk het.
Daar was sprake dat die boorling van Hanover Park op die Kaapse Vlakte die leisels by Bafana Bafana sou oorneem nadat Molefi Ntseki die trekpas by die nasionale span gekry het. Ná lang onderhandelinge is daar egter besluit om Broos as Bafana se breier aan te stel.

McCarthy het toe 'n hulpafrigterspos by die Engelse span Manchester United gekry, waar hy met internasionale sterre soos Cristiano Ronaldo, Marcus Rashford, Bruno Fernandes en andere gewerk het.
Die 47-jarige McCarthy, wat sy klubsokker vir Ajax Amsterdam (Nederland), Celta Vigo (Spanje), FC Porto (Portugal), West Ham United en Blackburn Rovers in Engeland gespeel het, het op 3 Maart vanjaar die leisels as hoofbreier van Kenia oorgeneem en het vinnig in die hart van die land se sokkerondersteuners ingekruip.
Die verwagting is dat Suid-Afrika se hoofafrigter, die 72-jarige Broos van België, ná volgende jaar se Wêreldbeker-toernooi in Noord-Amerika nie weer sy kontrak sal hernieu nie.
'n Suksesvolle McCarthy sal beslis dan hoog op die inkopielys wees indien die SA sokkerbase begin soek na 'n opvolger vir Broos.
En met Bafana Bafana wat ook steeds in die wedloop om die titel in Oos-Afrika is, bestaan daar ook nog 'n moontlikheid dat McCarthy breed in sy landgenote se pad kan staan in dié toernooi.
Bafana Bafana speel Vrydag in Kampala, Uganda, sy voorlaaste groepwedstryd teen Niger.





















