Messi mik na Inter Miami

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Lionel Messi  Foto: Getty Images
Lionel Messi Foto: Getty Images

Lionel Messi het Woensdag aangekondig hy beoog om by die Amerikaanse sokkerklub Inter Miami aan te sluit nadat sy paaie met dié van die Franse kampioen Paris St.-Germain (PSG) geskei en hy 'n uiters aanloklike aanbod in Saoedi-Arabië van die hand gewys het.

Daar was ook sprake daarvan dat Messi, wat die naweek sy laaste wedstryd vir PSG gespeel het, moontlik na Barcelona sou terugkeer, maar dié Spaanse klub se hande is vasgebind weens LaLiga se salarisreëls.

"Ek het besluit om by Miami aan te sluit," het Messi in 'n onderhoud met die koerante Diario Sport en Mundo Deportivo gesê.

"Ek het dit nog nie 100% gefinaliseer nie. Daar kort nog 'n paar goed, maar ons het besluit om voort te gaan. Indien Barcelona nie sou uitwerk nie, wou ek Europa verlaat en uit die kollig kom en meer aan my gesin dink."

Sy skuif na Suid-Florida sal die eerste keer wees dat die 35-jarige Argentyn sy sokker buite Europa speel sedert hy hom op 13-jarige ouderdom by Barca se akademie aangesluit en die Spaanse klub se voorste doelskieter met 672 doele geword het.

Messi, wat Argentinië in Desember in Katar tot Wêreldbekerglorie gelei het, het onder meer 'n rekordgetal van sewe Ballon d'Or-pryse gewen.

Messi het gesê dit is tyd om sokker op 'n ander manier te ervaar en sy daaglikse lewe meer te geniet.

"Beslis met dieselfde verantwoordelikheid en begeerte om te wen en dinge altyd goed te doen, maar met meer gemoedsrus." - Reuters

SPELETJIES VANDAG

CTA