Die Blitsbokke het Vrydagaand hul plek in die kwarteindronde van die sewestoernooi by die Statebondspele bespreek deur met Tonga af te reken.
Suid-Afrika het ses drieë gedruk om met 36-5 in die twee spanne se kragmeting in Groep B in Coventry te wen. Vroeër die dag het die Blitsbokke Maleisië met 46-0 ore aangesit.
Die Blitsbokke se laaste groepwedstryd is Saterdag om 13:18 teen Skotland. Die Skotte is ook steeds onoorwonne nadat hulle op die eerste dag met Tonga (41-0) en Maleisië (50-12) afgereken het.
Ofskoon die Blitsbokke ver gewen het in albei wedstryde, was daar veral teen Maleisië foute, soos 'n afskop van Selvyn Davids wat oor die kantlyn getrek het.
Teen Tonga was daar goeie vertonings deur spelers soos Christie Grobbelaar en Ronald Brown.
Teen dié eilandnasie was die Blitsbokke se samespel nie altyd uit die boonste rakke nie.
Die teenstand was beslis nie te waffers nie. Die ware toets vir die Suid-Afrikaners sal Saterdag en Sondag wees.
Grobbelaar het teen Tonga 'n paar keer gevaarlik met die bal in die hand gelyk en het ook twee keer gaan druk.
Mfundo Ndhlovu is laat in die wedstryd op 'n draagbaar van die veld gedra. 'n Speler van Tonga, John Ika, het 'n ontoelaatbare duikslag op Ndhlovu uitgevoer. Ika is met 'n rooi kaart van die veld gestuur.
• Puntemakers: Suid-Afrika 36 (17): Drieë: Siviwe Soyizwapi, Christie Grobbelaar (2), JC Pretorius, Sako Makata, Dewald Human. Doelskoppe: Ronald Brown (2), Human. Tonga 5 (5): Drie: Samisoni Asi.
• Ander uitslae in die manskompetisie: Australië 62, Jamaika 0; Kenia 27, Uganda 14; Nieu-Seeland 63, Sri Lanka 5; Samoa 34, Engeland 0; Skotland 41, Tonga 0; Kanada 31, Wallis 0; Fidji 52, Zambië 0; Kenia 45, Jamaika 0; Australië 12, Uganda 12; Engeland 47, Sri Lanka 19; Nieu-Seeland 19, Samoa 17; Skotland 50, Maleisië 12.
• Vrydag was 'n treurige dag vir die Suid-Afrikaanse vrouesewesspan. Die Suid-Afrikaners het teen Australië (0-38) en Fidji (0-41) verloor.





















