Net een vrouespeler onder die top-ses-gekeurdes op Wimbledon is nog staande.
Maar ook maar net-net.
Die ongekeurde Duitser Laura Siegemund het Dinsdagmiddag byna vir nog 'n opskudding gesorg, maar
Aryna Sabalenka, die eerste gekeurde, kon met 4-6, 6-2, 6-4 die wa deur die drif trek in hul kwarteindstryd.
Novak Djokovic was Maandagmiddag in 'n soortgelyke situasie toe hy diep moes delf om 'n puik Alex de Minaur te troef.
Sabalenka het die derde keer die halfeindronde gehaal nadat sy haar taaiste toets sover in die toernooi geslaag het.
Siegemund het in die derde stel die eerste deurbraak bewerkstellig en met 4-3 voorgeloop. Sabalenka het egter daarna op haar afslaan deurgebreek om sake gelykop te maak met 4-4 en daarna met kragtennis haar eie afslaan behou.
Siegemund kon een wedstrydpunt afweer, maar die Belarus kon die kragmeting met haar tweede wedstrydpunt beklink.
In die eerste stel het Sabalenka 'n stelpunt afgeweer, maar Siegemund het dit in een uur met 6-4 beklink.
In die agtste pot van die tweede stel het die Duitser afgeslaan met die pottelling 2-5, haar afslaan verloor en Sabalenka kon sake gelyk maak.
Die 37-jarige Siegemund was die oudste speler in die vroue-afdeling van die toernooi. Sy het die eerste gekeurde met kerf- en valhoutjies uitgedaag en presies geweet waar sy haar volgende hou wou plant.
Sabalenka se kragtennis het egter die deurslag gegee.
Die Amerikaner Amanda Anisimova, die 13de gekeurde, het Dinsdagaand haar kwarteindstryd teen Anastasia Pavlyuchenkova van Rusland met 6-1, 7-6(11/9) gewen.
Mirra Andreeva is Woensdagmiddag in die eerste stryd op die hoofbaan in aksie teen Belinda Bencic. Iga Swiatek se teenstander in die kwarteindronde is Liudmila Samsonova.
• Die Amerikaner Taylor Fritz was die eerste manspeler wat Dinsdag in die kwarteindronde in aksie was. Die vyfde gekeurde het 'n terugvegpoging deur die Rus Karen Khachanov afgeweer om met 6-3, 6-4, 1-6, 7-6(7/4) te seëvier. Die wedstryd het 2 uur en 36 minute geduur.
Fritz het vir die eerste keer die halfeindronde op Wimbledon gehaal.
Hy het vroeër die toernooie in Stuttgart en Eastbourne gewen.
Carlos Alcaraz, die verdedigende kampioen, pak Cameron Norrie Dinsdagaand vir 'n plek in die halfeindronde.















