Wb Netbal

Raai wat is Shadine se ryding?

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Shadine van der Merwe was in Januarie Suid-Afrika se onderkaptein in die Vierhoekige reeks, wat in Kaapstad beslis is. Foto: Getty Images
Shadine van der Merwe was in Januarie Suid-Afrika se onderkaptein in die Vierhoekige reeks, wat in Kaapstad beslis is. Foto: Getty Images

Die Protea-verdediger Shadine van der Merwe hou van 'n potjie gholf en besit 'n groen Volkswagen Kombi.

Dít het aan die lig gekom in 'n onlangse vraag-en-antwoord-sessie wat Puma, die Protea-netbalspan se klereborg, met haar gevoer het.

Van der Merwe, Bongiwe Msomi, die SA kaptein, Khanyisa Chawane, Elmeré van der Berg en Refiloe Nketsa is ambassadeurs vir die klereborg.

Van der Merwe, oorspronklik van Pretoria, het vanjaar nie veel kans gehad om met "Ertjie" rond te rits nie, want sy het haar klubnetbal vir Manchester Thunder in die Engelse Superliga gespeel.

"Dit is die eerste motor wat ek vir myself gekoop het en ek het altyd van 'n kombi gehou, want as kinders het ons een gehad. Sy naam is Ertjie oor sy kleur," sê Van der Merwe (30) in 'n verklaring.

Elmeré van der Berg onlangs in aksie vir die Flames van Noordwes. Foto: Netbal Suid-Afrika
Elmeré van der Berg onlangs in aksie vir die Flames van Noordwes. Foto: Netbal Suid-Afrika

Sy sê sy geniet dit om saam met vriende gholf te speel.

"Dit frustreer jou, maar jy skakel af en fokus net op die volgende hou, of waar om vir jou bal te soek."

Van der Merwe glo harde werk sal altyd talent klop.

"Om 'n verdediger te speel, is om druk toe te pas om momentum te bou en die wedstryd te verander. Ek geniet dit om die energie te bring," sê dié verdedigende vleuel/hulpdoelverdediger.

Van der Merwe glo om gefokus te bly is dit belangrik dat jy in die oomblik bly en "die beste weergawe van jouself bly, en sag is met jouself".

Khanyisa Chawane verteenwoordig die Vrystaatse Crinums in die Nasionale Liga en is 'n senterbaanspeler. Foto: Puma
Khanyisa Chawane verteenwoordig die Vrystaatse Crinums in die Nasionale Liga en is 'n senterbaanspeler. Foto: Puma

Sy sê dit is spesiaal om Suid-Afrika op enige plek te verteenwoordig, maar dit is spesiaal om dit voor haar familie en vriende te doen en trots te wees op wat sy bereik het.

Van der Merwe sê die nasionale span se eenheid is sy sterk punt.

"Ons sal op die baan tot die einde baklei."

Chawane stem saam en sê die span se vermoë om saam te staan is 'n pluspunt.

"Die energie en kameraadskap wat ons gedurende oefenkampe deel, wys hoe sterk ons saam is. Ons is mekaar se sterk punte."

Refiloe Nketsa is een van Puma se nuwe ambassadeurs. Foto: Puma
Refiloe Nketsa is een van Puma se nuwe ambassadeurs. Foto: Puma

Van der Berg, 'n 22-jarige doelskieter, sê die span het 'n doelwit en is toegewyd om sy beste te lewer. "Ons afrigters glo in ons en bring die beste in elke speler na vore."

Sy sê geloof, toegewydheid, eenheid, vasberadenheid en om jou alles te gee, is die sleutel tot WB-sukses.

Nketsa (22) is 'n reserwe vir die WB-toernooi en sê die span se diversiteit en kulturele verskille maak hom 'n sterk eenheid. "Ons is trots op ons eenheid en ons het vertroue in mekaar en ons voorbereiding."

• Saamgestel deur Annchen Nel.

CTA