Jacques Nienaber moes flink op sy voete dink ná 'n vraag of Duane Vermeulen verlede Saterdag langs Rassie Erasmus in die Stade de France gesit het om die losvoorspeler vir 'n toekomstige rol in die Springbok-afrigtingspan voor te berei.
Daar was juis vroeër vanjaar sterk sprake dat Vermeulen deur Erasmus geoormerk word as 'n opvolger vir Nienaber as die Bokke se verdedigingsafrigter, wat een van sy take as hoofafrigter is.
Nienaber sluit hom ná die Wêreldbeker-toernooi in Frankryk as 'n senior afrigter by die Ierse klubspan Leinster aan.
Die 37-jarige Vermeulen het planne om later vanjaar sy uittrede as 'n speler uit minstens toetsrugby bekend te maak.
Vermeulen se teenwoordigheid in die afrigtershokkie, tesame met sy verwagte uittrede, laat rugbyskrywers nou opnuut gons oor die moontlikheid dat hy in 'n stadium ná die WB-toernooi van Bok-speler na Bok-afrigter sal gradueer.
Die Blou Bulle het reeds vroeër vanjaar gesprekke met Vermeulen gehad oor die moontlikheid dat hy hul verdedigingsafrigter sal word, maar die bielie-losvoorspeler wil eerder in die Kaap bly. Hy het daarom nee gesê vir 'n toekoms in Pretoria.
Nienaber is Vrydag op 'n nuuskonferensie in Toulon onverwags oor Vermeulen se teenwoordigheid langs Erasmus gepols. Hy moes vinnig dink.
"Ek kan nie sê of hy vir die toekoms voorberei word nie," het Nienaber gesê. "Dit is nie die eerste keer dat ons 'n speler in die (afrigters-)boks het nie.
"Dit is goed vir ons as afrigters om soms 'n speler daar te hê, want hulle gee ons 'n ander perspektief van hoe ons kommunikasie binne die span is.
"Hulle kry 'n gevoel van die frustrasie wat afrigters soms in 'n afrigterslosie ervaar. Dit laat hulle as spelers groei."

Vermeulen speel sy rugby al van 2004 onder Erasmus en Nienaber. Min spelers ken en verstaan die Bokke se verdedigingstelsel daarom beter as Vermeulen.
Nienaber sê hulle betrek spelers op verskillende wyses in die span. "Ons afrigtersvergadering begin om seweuur die oggend - enige speler kan daarby aansluit," sê Nienaber.
"Kom ons sê as dit kom by iets sensitief soos spankeuse, dan sal ons hulle van die vergadering verskoon en die interne bespreking hê."
Vermeulen self is ook gister op 'n nuuskonferensie in Marseille gepols oor die moontlikheid dat hy 'n afrigter gaan word.
"Jy weet nooit nie," het hy geantwoord.
"As jy my 'n paar jaar gelede gevra het, sou ek nee gesê het. Maar nou dink ek 'n mens wil graag iets teruggee aan die jonger spelers.
"As die geleentheid hom voordoen, sal ek graag by die spel betrokke wil bly, want ek is baie lief daarvoor. Ek is nou al sowat 19 jaar 'n beroepspeler - dis 'n goeie rit sover."
Vermeulen sê dis 'n "mal" ervaring om langs Erasmus in die losie te sit.
"Ek het dit geniet. Jy kry 'n anderste perspektief daar. Ons leer daaruit en hulle kan sien hoe ons oor dinge dink. As 'n speler (op die veld) is jy deel van die spel en kan jy die uitkoms help bepaal. Maar as afrigters kan jy nie help om die uitslag te bepaal nie, jy kan net soveel detail as moontlik deurgee."
Vermeulen sal sy lyf vandag in 'n Wêreldbeker-kragmeting in Marseille weer speler hou. Hy is as seweflank teen Tonga gekies.
Nienaber sê Vermeulen het dikwels op seweflank gespeel toe hy jare gelede by die Stormers deur hom en Erasmus afgerig is. Hy het dikwels 'n lostrio gevorm saam met Schalk Burger in die 6-trui en Luke Watson op agtsteman.
"Duane se rol word die beste beskryf, as jy terugkyk na 2019 se WB-toernooi, as 'n Francois Louw-rol," sê die Bok-hoofafrigter.
"Hy is 'n ou wat baie ervaring het en 'n rykdom kennis tot die groep toevoeg. Hy kan in die beginspan gekies word, maar net so kan hy van die bank af kom. Kyk terug na die bydrae van Francois Louw in 2019 in daardie halfeindstryd (teen Wallis) toe hy 'n strafskop in die 76ste minuut gekry het."



















